ʼn Virtuele rooi suigstokkie vir my kleinkind

ʼn Grootouer word gebore wanneer ʼn kleinkind gebore word. Die verkryging van die eretitel: Ouma of Oupa, word deur talle grootouers gesien as een van die mees betekenisvolle emosionele gebeurtenisse in hulle lewens. Tog kan die merkwaardige aankondiging dat jy ʼn grootouer gaan word getemper word deur hartseer, veral wanneer die verwagtende ouers – jou kinders – kontinente en selfs tydsones vêr van jou af woon. Om inter-generasie verhoudings te behou na emigrasie is ʼn uitdaging, aangesien emigrasie ʼn sterk geneigdheid het om familiebande te laat verslap en kan dié verhoudings omvêr  werp.

In vandag se internet-gekonnekteerde wêreld het emigrasie aansienlik toegeneem. Suid-Afrika is geen uitsondering nie en het vele burgers aan emigrasie verloor, veral oor die laaste twee dekades. Volgens Buckham (2019), emigreer daar rofweg 23 000 mense per jaar uit Suid-Afrika. Volgens hierdie statistiek kan daar afgelei word dat ʼn groot aantal ouers en grootouers geraak word deur die emigrasie van hulle volwasse kinders en kleinkinders. Ouers en grootouers word onmiddellik transnasionale ouers en grootouers wat verskeie veranderinge en uitdagings tot gevolg het.

ʼn Grootouer se nabye betrokkenheid by ʼn kleinkind word positief geassosieer met die emosionele welstand van beide die grootouer en die kleinkind. Om na die kleinkind om te sien verskaf aan die grootouer, veral die ouma, ʼn geleentheid om haarself te verlustig in ʼn verhouding wat baie uniek van aard is. ʼn Ouma het haar rol beskryf as:

“… jy kry ʼn kleinkind wat ek jou kan sê die grootste pluspunt is van als. Jy is nie liewer vir jou kleinkind as vir jou kinders nie; jy het jou kleinkind op ʼn onbeskryflike manier lief want jy weet hierdie  kind is deel van jou kind, en al wat jy wil gee is liefde. Dit is hoekom grootouers veronderstel is om daar te wees, want hulle gee die suigstokkie al sê mamma dis sleg vir jou tande. Dit is die rol, die suigstokkie – en dit is van my af weg geneem.”

 

Die kwaliteit van die grootouer-kleinkind verhouding berus op gereelde kontak. Geografiese afstand, een van die sterkste bepalende faktore van kontak tussen grootouers en kleinkinders, affekteer die emosionele betrokkenheid tussen hierdie generasies. As jou kleinkinders naby aan jou gebly het en hulle ouers besluit om te emigreer, los it ‘n reuse gaping. Daar was dus al klaar ‘n hegtingsband gevorm met die kleinkind en hulle fisiese vertrek is ‘n pynlike herinnering aan dit wat was. Gevoelens van verlies word op verskeie vlakker ervaar. As ‘n grootouer is jy bekommers dat jy gaan uitmis op die alledaagse gebeurtenisse en ook die belangrike lewensfases van die kleinkind. Jou kleinkinders en kinders word uit jou lewe uit geruk en jy word die ouma wat vêr, vêr weg bly.

Die moontlikheid om ʼn betekenisvolle verhouding met ʼn kleinkind te ervaar word nouliks verbind met konstante kontak tussen hierdie drie generasies: die grootouers wat agter bly, die volwasse kind wat emigreer het, en die kleinkind. Om die ouma steeds deel te laat voel van die gesin is dit noodsaaklik dat die kinders wat emigreer het foto’s van die kleinkinders sal stuur en om hulle daaglikse aktiwiteite en belangrike mylpale met haar te deel.  Op die manier bly die grootouers steeds deel van hul kleinkinders se lewens. Die kinders vorm dus ʼn belangrike skakel tussen die grootouer en die kleinkind en het ʼn verantwoordelikheid om die verhouding in stand te hou, veral wanneer die kleinkinders nog baie jonk is.

Hoe gee jy as ouma vir  jou kleinkind ʼn suigstokkie as jy kontinente vêr van mekaar af bly?

Om die pluspunte van liefdevolle verhoudings met kleinkinders ten volle te geniet, is daar geen plaasvervanger vir fisiese nabyheid nie. Besoeke, indien moontlik, is die beste manier om jou kleinkind se nuwe wêreld te leer ken en te ervaar. Dit laat jou toe om deel te wees van jou kleinkind se nuwe omgewing en om nuwe herinneringe te skep. Dit help jou ook om ʼn beeld in jou gedagtewêreld te vorm van jou kleinkinders se nuwe omgewing. Besoeke is egter nie vir almal bekostigbaar of prakties moontlik nie maar daar is ander vorme van kontak.

Die ander alternatief is internet-kommunikasie soos  byvoorbeeld e-pos, Skype, WhatsApp en FaceTime. Dit is van kardinale belang dat grootouers vertroud raak met digitale kommunikasie-tegnologie en om die nodige vaardighede aan te leer om met hulle kleinkinders op hierdie platforms te kan kommunikeer. ʼn Ouma wat betrokke wil bly in die lewe van haar kleinkind  kan innoverend en kreatief wees deur byvoorbeeld haar skootrekenaar te gebruik om die kleinkinders virtueel te leer om ou familie-resepte baas te raak. Die kleinkind in Amerika kan dus met die leiding van die grootouer leer  pannekoek  bak. Al die bestanddele word deur die ouer aangekoop en die grootouer vorm deel van die kombuis en dus die lewe van die kleinkind op hierdie kreatiewe wyse. Maak afsprake met die kleinkind om spesiale aktiwiteite te doen, soos om elke week op ʼn sekere tyd ʼn storie voor te lees of ʼn bord speletjie te speel. Kontinuïteit word sodoende geskep in die grootouer-kleinkind verhouding.

Vind jou unieke manier om die band met jou kleinkind te versterk. Pak die uitdaging  met entoesiasme aan om sodoende jou liefde as grootouer vir jou kleinkind uit te leef, selfs oor kontinente en tydsones heen.

Hierdie artikel is vertaal van die oorspronklike artikel, “A virtual red lollipop”, wat aanvanklik gepubliseer was in die Routed Magazine op 14 Februarie 2020.