Emigrasie: Alles wat jy eers moet oorweeg

Woman and child at airport

Eenuur in die nag kan André van Niekerk nog rustig in Seoel, Korea, se strate rondstap. Trouens, dis so veilig daar dat sy vriendin sy huissleutels halftwaalf die nag op haar fiets vir hom kon bring.

“Jy kan jou laptop op die coffee shop se tafel los en toilet toe gaan. Met jou terugkeer sal dit steeds daar wees,” sê hy. Dis een rede hoekom hy nie sal terugkeer Suid-Afrika toe nie. Dienslewering is nóg een. “Ek het my bestuurslisensie na ’n Koreaanse een verander,” vertel hy.

“Ek moes ’n toets skryf en vorms invul. Toe ek vra wanneer ek die nuwe lisensie kan kom afhaal, het ek aan twee weke gedink. Raai wat? Dit was binne ’n uur gereed.” Nog ’n rede hoekom hy nou Koreaans leer met die oog op permanente verblyf, is die vervoerstelsel. “In die ses jaar wat ek hier bly, was daar nog nooit ’n bus of ’n trein laat nie.”

Nadat hy in September 2015 daar aangekom het, het hy aanvanklik Engels-onderwys gegee. As IT engineer het hy daarna kinders in kodering onderrig voordat hy Hummingbird Masks begin het, ’n besigheid wat gehaltemaskers na Suid-Afrika uitvoer. Daar is egter ook nadele daaraan om jou geboorteland te verlaat, soos dat André nie by was toe sy ma, wat in Kraaifontein in die noorde van Kaapstad woon, onlangs aan kanker gesterf het nie.

Hy het redelik goed in Korea aangepas, maar vir van sy vriende was dit ’n moeilike proses om vriende te maak en by die kultuur in te skakel. Tog oorskry die voordele van emigrasie vir baie Suid-Afrikaners die nadele. Daarom dat meer as 20 000 Suid-Afrikaners jaarliks die land verlaat.

Dr. Sulette Ferreira van Pretoria is ’n familieterapeut wat aktief navorsing doen oor emigrasie in veral die Suid-Afrikaanse konteks, en die uitwerking daarvan op verhoudings oor generasies heen. Volgens haar is dit oor die algemeen moeilik om betroubare en onlangse emigrasiedata op te spoor.

“Die aantal Suid-Afrikaners wat in 31 lande die wêreld oor woon, het van 435 000 in 2000 tot 820 000 in 2017 toegeneem, wat daarop dui dat 23 000 mense Suid-Afrika jaarliks verlaat,” sê sy. “Selfs die Covid-pandemie en lockdown het mense nie daarvan weerhou nie. Sommige se planne is net uitgestel.”

Covid-19 keer planne

Claire Josephs (26) van Kuilsrivier in die Kaap het reeds al die reëlings getref om haar in China te vestig toe Covid-19 alles beduiwel het. Hoewel sy hospitality management aan CPUT studeer het, was sy vas van plan om haar by haar antie daar aan te sluit en Engels-klasse te gee.

“Ek het alles gedoen wat nodig was: die bloedtoets, mediese ondersoek en polisieklaring. My graad moes ook bekragtig word omdat die Chinese maar skepties is oor ons onderrig. Alles het my nagenoeg R5 000 gekos.” In daardie stadium het haar suster, Cleo (29), besluit om ook China toe te trek.

“Ek het reeds ’n werk daar gehad en ons het al letterlik ons vriende gegroet toe Covid tref. Later het die nuus gekom dat Suid-Afrikaners nie meer daar toegelaat word nie.”

Vir hulle het ’n droom geëindig, maar daar is baie Suid-Afrikaners wat nie kan wag vir die dag wat die reisreëlings weer verslap sodat hulle die land kan verlaat nie. Ontnugtering met die regering, die misdaadsituasie, armoede, beurtkrag, ekonomiese en politieke onstabiliteit in Suid-Afrika, ’n hoër lewenstyl en lewenskwaliteit elders asook werkgeleenthede vir gesinne, gratis of bekostigbare onderwys en/of gesondheidsorg is onder die dryfvere vir Suid-Afrikaners om pad te gee, sê kenners.

Wat om te oorweeg

Elke land is uniek, en elke land het sy eie voorskrifte. ’n Goeie beginpunt is om op die land van jou keuse se regeringswebwerf te gaan kyk na die soort visums en emigrasieroetes wat beskikbaar is, asook die vereistes ten opsigte van ouderdom, vaardighede en werk. Daarna moet jy ’n migrasie-agent aanstel om jou op die res van die pad te help.

“Dis belangrik dat kundiges jou adviseer oor die vereistes, of jy kwalifiseer, en die beste visa/permit-roete wat gevolg moet word gegewe jou omstandighede,” sê Ralph Wichtmann, konsultant van Sovereign Trust. Hoe verwarrend dit kan raak, word geïllustreer deur die feit dat daar in net Australië 99 verskillende soorte visums is. En enige kenner kan jou vertel van mense wat probeer geld spaar het deur hul eie visumaansoek te hanteer, maar op die ou einde die aansoekgeld verloor het en in elk geval van ’n kundige gebruik moes maak om te probeer red wat te redde is.

Jy moet seker maak dat jy die regte besluit neem en nie net weghardloop nie.

“Win ook advies in oor die belastingimplikasies in sowel Suid-Afrika as jou nuwe land,” voeg Ralph by. Een aspek wat Sulette bekommer, is dat mense baie aandag aan ’n visum sal gee, maar nie aan die psigologiese aspek van emigrasie nie.

“Jy moet seker maak dat jy die regte besluit neem en nie net weghardloop nie. As jy hier nie ’n sukses kon maak nie, is jy seker jy sal dit in ’n nuwe land kan doen? Waarheen gaan jy as dit nie gebeur nie?” is goed wat voornemende emigrante moet aan dink. As familieterapeut fokus sy veral op ouers en grootouers wat agterbly ná emigrasie.

“’n Groeiende generasie moet daarby aanpas om deel van ’n transnasionale familie te wees wie se kinders en kleinkinders nie naby hulle woon nie,” sê sy. Die grootste konsentrasie Suid-Afrikaanse emigrante word in die Verenigde Koninkryk, Australië, die VSA, Nieu-Seeland en Kanada aangetref. Die afgelope vyf jaar was daar ’n aansienlike toename in emigrasie onder veral ryk en superryk Suid-Afrikaners, berig BusinessTech.

Volgens Ralph kyk mense wat via beleggingsroetes permanente verblyf oorweeg, veral na lande soos Portugal en Mauritius. “Met baie van die residency en citizenship by investment-programme is redelike hoë beleggings nodig in byvoorbeeld eiendom en besigheid, maar sekere lande soos Mauritius het ’n ‘retired non-citizen permit’ wat bekostigbare vereistes het.”

Lande soos veral Australië, Kanada en Nieu-Seeland het weer werk- of voorkeurberoepe weens ’n kundigheidstekort in hul lande. Vir sakelui is Australië een van die gewildste bestemmings. Karen Kotze en haar man, Jannie, wat onderskeidelik as adjunk-staatsprokureur en advokaat in Suid-Afrika gepraktiseer het, het daarheen geëmigreer en weet presies wat die slaggate is. Hulle bedryf Kotze Law in Perth met Karin as migrasie-agent en Jannie as prokureur wat ook migrasiewerk doen.

Karen en Jannie moes herkwalifiseer in Australië, wat op grond van jou grade, kurrikulum en ondervinding besluit hoeveel vakke jy moet oordoen. Vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse regsgeleerde sal dit tussen drie en agt vakke wees en gemiddeld tussen twaalf en agtien maande duur. Karen kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat die agent wat jou help om na Australië te emigreer, by die Migration Agents Registration Authority (Mara) geregistreer moet wees nie – iets wat moontlik is vir SA agente, hoewel hulle die diploma in Australië moet voltooi. (’n Migrant is iemand wat van een plek na ’n ander trek hoofsaaklik om te werk; en ’n emigrant is iemand wat permanent na ’n ander land verhuis.)

“Migrasie is geweldig kompleks,” benadruk Karen. Volgens haar het Australië net 24 miljoen inwoners en is migrante van kardinale belang vir die land se groei. Sy verduidelik dat die federale regering jaarliks ’n kwota vasstel vir die hoeveelheid migrante wat hy wil inbring en dat dit onder die sewe state en territories verdeel word. Die meerderheid kom onder die vaardigheidstipe visums (skilled) in. Maar al verloop alles seepglad moet jy die volgende onthou.

“Emigrasie het ’n rimpeleffek en raak al die geliefdes op verskillende maniere,” sê Sulette, wat as familieterapeut te doen het met nie net die wat agterbly nie, maar ook diegene wat die land permanent verlaat. “Die verhoudings wat was, het verander. Diegene wat agterbly, het te doen met ander uitdagings as diegene wat emigreer. Maar almal ondervind ’n verlies waaroor gerou moet word.”

 

Handige kontake

 

Regeringswebblaaie

 

Bron: Netwerk 24