Onderstaande artikel verskyn met volle skriftelike toestemming, soos verskaf deur kleinseun en oupa.
“Ek en my oupa praat baie oor geloof. Hy is ’n bekende dominee wat oor die wêreld heen gerespekteer word vir sy kennis en insig. Hy het ’n hand gehad in die vertaling van die Afrikaanse Bybel en het so ook kennis van die teks wat min mense mee kan kompeteer. Hy is een van die hoof editors van al my gedigte en die teks van Spoegwolf songs. Van kleins af het ek my oupa gebel as ek gewonder het oor dinge.”
Só lees die aanlyn beskrywing van Danie “Reënwolf” du Toit, hoofsanger van die bekende Afrikaanse sanggroep Spoegwolf, oor die spesiale band met sy oupa, Danie du Toit, ’n geliefde predikant tans by die Strooidak Kerk-gemeente in die Paarl. Hoe verfrissend dat ’n bekende jong volwassene so nostalgies, bykans digterlik, skryf oor die ryk invloed wat sy oupa op sy lewe het – soos om ’n “ghoeroe op speed dial” te hê.
Is hierdie geredelike toeganklikheid tot ou wysheid moontlik die rede waarom Danie jr se lirieke en gedigte soveel insig, wysheid en begrip toon?
Dit is geen geheim dat sekere kleinkinders en hul grootouers ‘n spesiale verhouding het en ander nie. Al ooit gewonder waarom? Verskeie studies oor die redes vir hierdie spesiale verhouding het bevind dat daar nie een nie, maar ’n verskeidenheid faktore is wat ’n rol speel in die kwaliteit van die verhouding tussen grootouers en hul kleinkinders.
Dit is geen geheim dat sekere kleinkinders en hul grootouers ‘n spesiale verhouding het en ander nie. Al ooit gewonder waarom? Verskeie studies oor die redes vir hierdie spesiale verhouding het bevind dat daar nie een nie, maar ’n verskeidenheid faktore is wat ’n rol speel in die kwaliteit van die verhouding tussen grootouers en hul kleinkinders. In hul onderskeie studies het Silverstein (1998) en Bengtson (2010) byvoorbeeld bevind dat daar minstens ses faktore is wat ’n rol in intergenerasie solidariteit speel; oor sommiges het ons beheer en oo ander nie. Hierdie faktore is onder andere geografiese of fisiese nabyheid, aantal kleinkinders, die geslag van die grootouer en dié van die kleinkind, die verhouding tussen grootouers en hulle eie kinders, die huwelikstatus van die grootouers, asook hulle ouderdom.
Hoe toets ons die relevansie van hierdie bevindinge in 2022? Te oordeel aan die skrywe van Danie jr, watter beter manier is daar as om by iemand wat alreeds die geheim ontdek het – Danie sr – te gaan aanklop? In ‘n insiggewende aanlyn gesprek met die besondere oupa, word nie slegs die relevansie bevestig nie, maar kom ons tot die slotsom dat daar met verloop van tyd sekere klemverskuiwings plaasgevind het.
Die waarde van die grootouer-kleinkind-verhouding in 2022
Weens ’n verskuiwing in demografie, oorvleuel die lewensjare van hedendaagse grootouers en kleinkinders langer as wat in die verlede die geval was. Hierdie verskynsel, wat veral spruit uit langer lewensverwagtinge (Hagestad 1985), bied dus die geleentheid vir ’n meer langdurige verhouding tussen die twee ekstreme generasies. Die gemiddelde gesin het kleiner geword, ’n verskynsel wat as vertikalisering bekend staan. Hierdie vertikalisering het veroorsaak dat verhoudings tussen generasies toenemend belangrik word (Bengtson 2010). Daar word geraam dat ons in die toekoms soveel as die helfte van ons leeftyd as grootouers kan deurbring. Dus gaan baie grootouers lank genoeg leef om hul kleinkinders nie slegs as volwassenes nie, maar moontlik ook as middeljariges te ervaar en deurgaans ’n verrykende rol in hul lewens te speel – soos wat inderdaad die geval met Danie Jr en sy oupa is.
Die verhouding tussen grootouers en kleinkinders is vir beide generasies waardevol (Bengtson 1985). Binne die familieverband dien grootouers as ’n spilpunt en ’n skakel tussen die verlede en die hede wanneer hulle die familie se erfenis en kultuur aan die jonger generasie oordra (Kornhaber 1996). Vir die grootouer lê die waarde in die volgende. Eerstens is daar ’n gevoel van kontinuïteit waardeur die familielyn van een generasie na ’n volgende oorgedra word – die grootouer leef dus voort deur die kleinkind. Tweedens is daar ’n gevoel van verlenging van die self: die prestasies van die kleinkinders laat die grootouer self waardevol voel. Derdens is daar ’n gevoel van bevrediging wanneer die grootouer fisies en emosioneel bydra tot die kleinkind se welstand. Vir die kleinkinders lê die waarde daarin dat hulle bydra tot die grootouers se welstand deur hul byvoorbeeld te ondersteun en bekend te stel aan die nuutste tegnologie. Dus: Om te kan deel in lewenservaring, verhoudings en waardes, verseker ’n belangrike interne kontinuïteit binne die familie. Dit versterk ’n gevoel van integriteit en gee betekenis aan die lewe – alles elemente wat ’n balans skep wat noodsaaklik is vir suksesvolle veroudering.
Dus: Om te kan deel in lewenservaring, verhoudings en waardes, verseker ’n belangrike interne kontinuïteit binne die familie. Dit versterk ’n gevoel van integriteit en gee betekenis aan die lewe – alles elemente wat ’n balans skep wat noodsaaklik is vir suksesvolle veroudering.
Geslag van die grootouer
Van die verskeie rolle wat ons in gesinsverband vertolk, is die een wat as uniek uitstaan, sekerlik dié van grootouer. Hierdie rol is nou gekoppel aan die onvoorsiene, aangesien jy as grootouer min beheer het oor die verloop daarvan. Anders as wat byvoorbeeld die geval met gesinsbeplanning is, het grootouers nie beheer oor, of “beplan” hulle nie die spesifieke tyd wanneer hulle oupa of ouma gaan word nie. Hulle het ook nie beheer oor hoeveel kleinkinders hulle gaan hê nie, hoe ver hulle van die kleinkinders gaan woon of hoe gereeld hulle die kleinkinders te siene gaan kry nie (Troll 1985).
Grootouers het ook weinig beheer oor hoe die samelewing die geslagsrol van die grootouer beskou. Dit is opvallend hoe die literatuur rakende grootouers dikwels die rol van die oupa oor die hoof sien of minder gering ag as dié van die ouma. Verwysings na “grootouer” het byna sinoniem geword met verwysings na “ouma”.
Grootouers het ook weinig beheer oor hoe die samelewing die geslagsrol van die grootouer beskou. Dit is opvallend hoe die literatuur rakende grootouers dikwels die rol van die oupa oor die hoof sien of minder gering ag as dié van die ouma. Verwysings na “grootouer” het byna sinoniem geword met verwysings na “ouma”.
Monserud (2010) se studie dui daarop dat die geslag (manlik of vroulik) van die grootouer ’n verskil maak: Daar is ’n klemverskuiwing tussen ’n oupa en ’n ouma. Daar is drie moontlike redes hiervoor. Eerstens, veral in die verlede, het die man meer die rol van broodwinner gespeel, terwyl die vrou se rol meer op verhoudings gefokus het – ’n ouma word dus tradisioneel beskou as die grootouer wat ’n groter emosionele betrokkenheid by gesinsideale en persoonlike identiteit en groter invloed daarop uitoefen. Die feit dat oumas meer op verhoudings fokus, maak dat hul interaksie met kleinkinders meer gereeld plaasvind as dié van oupas. Tweedens is vrouens tradisioneel meer gewillig om aan navorsingstudies deel te neem; en derdens het vrouens histories ’n langer lewensverwagting as mans (Roberto en Stroes 1992). Daar is egter toenemende getuienis wat dui op die belangrike rol wat beide grootouers in intergenerasie solidariteit speel deurdat elk ’n unieke, dog komplementerende bydrae lewer.
Die onderskatte rol van die oupa
Grootouerskap skep verskillende verwagtinge en verantwoordelikhede rakende die rol wat die man as oupa en die vrou as ouma speel. Mans streef deesdae na ’n groter betrokkenheid en ’n begeerte om te versorg, en daarom gebeur dit dat daar ook nuwe rolle en gedragspatrone uitgekerf word. Met aftrede verskuif die klem van die man se eers loopbaangerigte fokus na meer persoonlike aspekte binne die familieverband, wat dus ook die kleinkinders insluit. Tydens hierdie fase is daar letterlik meer tyd vir verhoudings met hul kleinkinders, en vind daar heel dikwels ’n emosionele verdieping plaas wat vir beide generasies van waarde is. Familiebetrokkenheid word dus toenemend vir oupas belangrik soos wat hul ouer word. Die versterking van familiebande word dus ’n vername doelwit vir oupas, geskoei op besorgdheid, toegewydheid en aktiewe deelname.
Cherlin (1992) wys daarop dat oupas van dekades gelede die beeld gehad het van ’n stil, afsydige patriarg. Kivett (1991) beaam hierdie sentiment dat die algemene stereotipering oupas uitgebeeld het as meer outoritêr, veraf en onbetrokke; iemand wat hul idees afdwing. Met verloop van tyd het hierdie beeld stelselmatig verander soos wat kulturele en sosiale norme aangaande mans se betrokkenheid in die ondersteuning, onderhoud en versorging van hul kleinkinders ook verander het. Die hedendaagse oupa pas nie meer die profiel soos beskryf deur Cherlin en Kivett nie, en in die geval van Danie veral, wys sy oupa eerder ’n sterk emosionele toegewydheid sowel as ’n begeerte na ’n langdurige betrokkenheid.
Die hedendaagse oupa pas nie meer die profiel soos beskryf deur Cherlin en Kivett nie, en in die geval van Danie veral, wys sy oupa eerder ’n sterk emosionele toegewydheid sowel as ’n begeerte na ’n langdurige betrokkenheid.
Geleidelik word die indruk dat slegs oumas in staat en belangrik genoeg is om die emosionele omgeewerk te doen, empiries bevraagteken. Hierdie subtiele verdieping dui daarop dat mans, en spesifiek oupas, se emosionele betrokkenheid by die gesin en hul bydrae tot elke gesinslid se welstand nie onderskat moet word nie.
Gesinskonteks en die rol van die middelgenerasie
Die emosionele gehegtheid tussen grootouers en hul eie kinders bepaal tot ’n groot mate die emosionele betrokkenheid tussen grootouers en hulle kleinkinders. Op dieselfde manier bepaal die verhouding met hul eie dogter of seun (die ouer van die kleinkind) tot ’n groot mate die omvang van grootouers se interaksie met hul kleinkinders. Die ouer speel dus die rol van gatekeeper of “tussenganger” – terme wat geskep is ter beskrywing van die rol wat die ouer speel om die verhouding tussen die grootouer en kleinkind te bevorder of te belemmer. Die middelste geslag (die ouers) vorm die brug tussen kleinkinders en grootouers en die gehalte van hierdie brugverhouding word grootliks deur ouers se volgehoue aanmoediging bepaal. Navorsing van onder meer Monserud (2010) bevestig hierdie sleutelrol van ouers om die kontak tussen die kleinkinders en grootouers te versterk, selfs nadat die kleinkinders die huis verlaat het.
Kinders wat hul ouers as goeie ouers ervaar het, sal veel eerder hulle ouers in hul eie kinders (die kleinkinders) se lewens betrokke hou. Die mate waartoe kinders dus die grootouer-kleinkind-verhouding koester, weerspieël dus in ’n groot mate die ondersteuning wat die kinders op hulle beurt weer van die grootouers ontvang het. Om daarby aan te sluit: Danie se oupa beklemtoon die belangrike rol wat ouers as tussengangers vervul, en die waardes wat deur die nabyheid van hierdie gesinskonteks oorgedra word.
Gesinskonteks is dus van kardinale belang, en in die geval van Danie en sy oupa vorm die gesinskonteks die hart van die besondere band. Danie sr stel dit duidelik dat so ’n verhouding kan floreer slegs indien die hele familie saamwerk. Danie se ouers doen heelwat moeite om die gesinsbande met beide die kleinkind se grootouerpare te versterk en lewend te hou. Wanneer volwasse kinders gereeld by hulle ouers kuier en die kleinkinders saamgaan, deel hulle outomaties in die gesinsrituele wat so gevorm word. In die proses dra dit by tot die voorbeeld dat verhoudings gekoester moet word.
Oupa as mentor
Wanneer jy ’n ouer is, is dit moontlik om die grootmaakproses as ’n soort verpligting te sien. Wanneer jy ’n grootouer is, het jy egter ’n unieke geleentheid om as mentor vir jou kleinkinders op te tree. Hierdie rol van oupas as mentors is deur verskeie navorsers bestudeer. In hierdie konteks verwys mentorskap meer na die karakter van die verhouding as wat dit na ’n formele rol verwys. ’n Mentor is ’n persoon met meer lewenservaring, wat ruimskoots kritieke inligting oor alledaagse waardes en vaardighede (soos die belangrikheid om ’n opvoeding te voltooi en hard te werk) aan ’n jonger persoon oordra. Die mentor ondersteun die jongmens in sy of haar lewenservarings soos dit ontvou, neem hom of haar onder hul vlerk, en koester sodoende die jonger persoon se ambisie en verbeelding (Levinson 1978).
Vanweë ’n oupa se wysheid, lewenservaring en besorgdheid oor sy kleinkinders se welstand, is mentorskap ’n natuurlike uitvloeisel van mans se rol as oupas. Deur daardie wysheid, lewenservaring en besorgdheid te deel soos wat ’n kleinkind se lewenservaring ontvou, vervul die oupa-mentor vele funksies, wat insluit om iemand te onderrig, te lei, ’n voorbeeld te stel en raad te gee. Dus, oupas mentor wanneer hulle hul ondervindings deel en die rol van ’n vindingryke en wyse ouer vervul (Kivett 1991). Hierdie behoefte aan ’n mentor, en dat sy oupa wel die behoefte vervul, blyk duidelik uit Danie se skrywe oor sy oupa:
Van kleins af het ek my oupa gebel as ek gewonder het oor dinge:
Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense?
Hoekom laat God oorloë toe?
Wat is liefde?
Hoe het mens lief?
Hoe kan ek wetenskap en geloof strook met mekaar?
Hoe lees ek die Bybel?
Hoe klink God se stem?
Die besondere mentor-rol wat sy oupa speel, is opvallend in hierdie Instagram-plasing van Danie: “My oupa gee nie sommer net ’n antwoord nie – hy maak eerder ’n deur oop na ’n plek waar jy met vrymoedigheid en moed kan dink oor die belangrikste dinge in jou lewe – en ja ook oor God.”
Uit die gesprek met Danie se oupa is dit duidelik dat grootouers se invloed sag moet wees, wat ooreenstem met die bevindinge van Cherlin en Furstenberg (1992), Kornhaber (1996), Levinson en Darrow (1978) en Wagner, Weber en Cooper (1995). Grootouers beskik oor ’n skatkis van kennis, ervaring en wysheid wat oor ’n leeftyd verwerf is. Deur hul betrokkenheid kan grootouers aktief die lewens van hul kleinkinders help vorm en verryk.
Hoe word jy ’n besonderse oupa?
Kleinkinders heg waarde aan die mate waartoe grootouers hul rol vertolk. Vir die grootouer wat vasbeslote is om ’n goeie en langdurige verhouding met hul kleinkind te koester, lê die geheim in ’n wilsbesluit om die verhouding te laat ontwikkel en groei. Om so ’n verhouding met ’n kleinkind op te bou vereis gereelde kontak tussen die oupa en kleinkind. Kontak is sekerlik dié aspek van die grootouer-kleinkind-verhouding wat die meeste bestudeer is, en het veral gedurende Covid baie aandag geniet. Navorsing dui toenemend op die noue verwantskap tussen meer gereelde kontak en dieper emosionele betrokkenheid. Om te verseker dat ’n verbintenis ontwikkel en aanhou groei, moet die belanghebbende partye se optrede die gesondheid, integriteit en kwaliteit van die verhouding in stand hou. Kontak sluit aangesig-tot-aangesig- en virtuele kommunikasie tussen die grootouer en kleinkind in. Met jong gesinne wat toenemend emigreer, raak dit al meer belangrik dat grootouers moeite doen om die nodige tegnologie te bemeester om kontak met die kleinkinders te behou.
Toegewydheid is ’n ander belangrike aspek wat die kwaliteit van die verhouding tussen grootouer en kleinkind bepaal. Die doel van toegewydheid is om kontinuïteit binne die verhouding te verseker. Oupas gee dus hul tyd, dra finansieel by, gee hulle fisieke en emosionele energie en maak opofferings ten opsigte van hul eie doelwitte, selfs in terme van aftrede, om die volhoubaarheid van die verhouding te verseker.
Elke kleinkind verdien ’n besondere mens wat hulle deurgaans sal bewonder en ondersteun en spesiaal sal laat voel, wat as betroubare bron van liefde altyd daar vir hulle sal wees. Wat aan hulle ’n veilige tuiste sal bied, ongeag die teleurstellings en probleme wat hulle mag ervaar. ’n Grootouer is uitgeknip vir hierdie rol.
Hoe word jy ’n besonderse oupa? Deur spesiale herinneringe saam met jou kleinkind te skep. Deur hulle voor te berei op ’n nalatenskap waarvan die waarde nie in rand en sent gemeet kan word nie. Dit kan daartoe lei dat selfs dekades nadat jy nie meer hier is nie, hulle steeds waarde sal vind in die herinneringe van liefde, inspirasie, aanmoediging en wysheid wat jy deur jou mentorskap met hulle gedeel het.
Hoe wil jy graag as ’n oupa onthou word?
Sekere aspekte van die grootouer-kleinkind-verhouding is eenvoudig onmoontlik om te meet. Hoe meet mens die emosie wat gepaardgaan met die geboorte van ’n eerste kleinkind, dus, die ervaring om ’n oupa te word? Danie sr verwoord dit as volg:
Met die geboorte van my eerste kleinkind het dit vir my gevoel asof ek by die eerste dag van die Skepping is, daar waar alles begin het, hier begin dit nou in my lewe vir my. Ek sien ek die skeppingswonder gebeur voor my oë. Met elke kleinkind was dit weer dieselfde wonder.
Hy het gedink dis net eenmalig, maar met elke kleinkind se aankoms was die ervaring een van verwondering – selfs na tien kleinkinders. Die wonder wat hy met elkeen se geboorte ervaar, leef voort in sy verhouding met elke kleinkind.
Kosbare oomblikke hou nie op met die geboorte van ’n kleinkind nie. Vra maar vir enige oupa wat dit aan jou hart doen wanneer jou kleinkind se gesiggie ophelder en hulle tydens die skoolkonsert van die verhoog af vir jou waai. Sulke gedeelde glimlagte, spesiale tye, geluk en warmte, en om gekoester te voel, is magiese oomblikke in die wonderwerk van die kleinkind-grootouer-verhouding.
Wat vernuwe die siel van ’n grootouer? Dieselfde dinge wat énigiemand se siel sal vernuwe: respek en eerbewys wat op beide ’n persoonlike en ’n publieke manier uitgedruk word. Die bejaarde of ouer persoon het, weens die realiteite van oudword, ’n behoefte aan daardie respek.
Wat vernuwe die siel van ’n grootouer? Dieselfde dinge wat énigiemand se siel sal vernuwe: respek en eerbewys wat op beide ’n persoonlike en ’n publieke manier uitgedruk word. Die bejaarde of ouer persoon het, weens die realiteite van oudword, ’n behoefte aan daardie respek. Dit is ’n respek wat binne die samelewing en in jou eie kinders gekweek moet word. Dis moontlik dat kleinkinders op ’n heel natuurlike manier daardie rol vervul. In ruil beteken dit so baie vir hul grootouers dat iemand hulle op ’n verhoog plaas en sodoende hul siel vernuwe (Wechsler 1985).
Die nalatenskap van Danie sr lê in meer as die feit dat Danie jr sy naamgenoot is. Dit lê in die oordrag van waardes, karakter, ondersoekende denke, en eerbied vir die lewe, wat so kosbaar vir Danie jr is.
Het jou kleinkind die vrymoedigheid om jou met deurdringende vrae te WhatsApp: “Oupa? Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? Hoekom laat God oorloë toe?”
Wat sal jou antwoord wees?
Dankie aan Minétte Teessen, Cilliers Willers en Yvonne Naude vir die hulp met die teks en alle insette.
Bronnelys
Bengtson, VL. en PS Oyama. 2010. Intergenerational solidarity and conflict, in MA Cruz-Saco en S Zelenev (reds). Intergenerational solidarity. New York: Palgrave Macmillan.
Cherlin, A en FF Furstenberg. 1992. The new American grandparent: A place in the family, a life apart. Harvard: Harvard University Press.
Hagestad, G. 1985. Continuity and connectedness, in VL Bengtson en J Robertson (reds). Grandparenthood. Beverly Hills, CA: SAGE Publications.
Kivett, VR. 1991. Centrality of the grandfather role among older rural black and white men. Journal of Gerontology, 46:2250.
Kornhaber, A. 1996. Contemporary grandparenting. Thousand Oaks: SAGE Publications.
Levinson, DJ en CN Darrow. 1978. The Seasons of a Man’s Life. New York: Ballantine Books.
Monserud, MA. 2010. Continuity and change in grandchildren’s closeness to grandparents: Consequences of changing intergenerational ties. Marriage and Family Review, 46:366.
Roberto, KA en J Stroes. 1992. Grandchildren and grandparents: Roles, influences, and relationships. The International Journal of Aging and Human Development, 34:227.
Ruiz, SA en M Silverstein. 2007. Relationships with grandparents and the emotional well-being of late adolescent and young adult grandchildren. Journal of Social Issues, 63:793.
Silverstein, M, R Giarrusso en V Bengtson. 1998. Intergenerational solidarity and the grandparent role, in M Szinovácz (red), Handbook on grandparenthood. Greenwood Publishing Group.
Troll, L. 1985. The contingencies of grandparenting, in VL Bengtson en J Robertson (reds). Grandparenthood. Beverly Hills, CA: SAGE Publications.
Wagner, EM, JA Weber en K Cooper. 1995. Grandparents’ visitation rights: Who decides? Family Perspective, 29:153.
Wechsler, H. 1985. Grandparents, religion and the context of values: Judaic perspectives on grandparenthood, in VL Bengtson en J Robertson (reds). Grandparenthood. Beverly Hills, CA: SAGE Publications.
Bron: litnet