Wat moet ʼn mens doen om ʼn besonderse verhouding met jou kleinkind te hê? Om meer uit te vind het Sulette Ferreira met ds. Danie du Toit gaan gesels.
“Van kleins af het ek my oupa gebel as ek gewonder het oor dinge: My oupa is ʼn denker, ʼn verlanger, en een van die hoof- editors van al my gedigte en die teks van die Spoegwolf-songs”.
So lees die aanlyn beskrywing van Danie “Reënwolf” du Toit, hoofsanger van die bekende Afrikaanse sanggroep Spoegwolf, oor die spesiale band met sy oupa, ds. Danie du Toit, ʼn geliefde predikant van die Strooidakkerk-gemeente in die Paarl.
As Danie met sóveel deernis oor hul verhouding skryf, moet dit spesiaal wees. Dit is ongewoon dat ʼn jonger persoon só nostalgies oor sy oupa se invloed in sy lewe skryf.
Met die intrapslag besef ek dit is heilige grond wat ek betree: Om ʼn oupa te word, is ʼn besondere gebeurtenis. Talle grootouers ervaar hierdie nuwe rol op ʼn spirituele vlak, selfs as ʼn religieuse gebeurtenis en beskou die kleinkind as ʼn geskenk van God.
“Kom ek begin by Danie,” sê Du Toit. “Hy is die oudste. Toe hy gebore is, daardie dag het ek gesê dit voel vir my ek is by die eerste dag van die skepping. Met al tien my kleinkinders het ek weer dieselfde wonderwerk belewe. Ek sien hoe die skeppingswonder voor my oë gebeur. Elke kleinkind is geweldig uiteenlopend en uniek en daarom wil ek elke kleinkind so hanteer. By elke kleinkind het jy ʼn ander stukkie skoonheid.”
Drie generasies, een verbintenis
Al ooit gewonder waarom sommige kleinkinders ʼn spesiale verhouding met hul grootouers het? Navorsing oor die faktore wat die emosionele band tussen die grootouers en kleinkinders beïnvloed lig die volgende uit: geografiese of fisieke nabyheid, aantal kleinkinders, die geslag van die grootouer en dié van die kleinkind, die verhouding tussen grootouers en hulle eie kinders, die huwelikstatus van die grootouers en die ouderdom van die grootouer.
Dat dié bevindinge in 2022 steeds geldig is, beaam Du Toit: “Danie se ouers doen heelwat moeite
om die gesinsbande met beide die kleinkind se grootouerpare te versterk en lewendig te hou. Dit gaan vir my oor die familiekonteks. Die hele familie moet saamwerk om die verhouding te laat slaag en die belangrikste skakel is die ouers wat die verhouding met die oupa verwelkom, koester en kweek. Dis nie net een persoon wat die hele tyd probeer nie – elkeen in die gesin speel ʼn belangrike rol. Dit verg harde werk soos met enige verhouding, dit is ʼn doelbewuste besluit om aan die verhouding met die kleinkind te werk.”
Diegene wat ʼn positiewe verhouding met hul ouers het, bly ook graag betrokke in hul kinders
se lewens. Vir die volwasse kind dien die ouer se wysheid, ondervinding en kennis, en die feit dat hulle ook dikwels finansiële ondersteuning verskaf as ʼn voorbeeld. So funksioneer die ouer as tussenganger tussen kleinkinders en grootouers.
Binne die gesinsverband dien grootouers as ʼn skakel tussen die verlede en die hede wanneer hulle die familie se erfenis en kultuur aan die jonger generasie oordra. Hulle verskaf inligting oor die kleinkind se ouers en leer kleinkinders belangrike lewenslesse,
oor onder meer waardes, geloof en goeie basiese lewensbeginsels. Hierdie emosionele betrokkenheid van die grootouer lê ʼn sterk grondslag in die kleinkind se ontwikkeling. Op hul beurt gee die kleinkinders betekenis aan die ouer persoon se lewe, wat noodsaaklik is vir gebalanseerde veroudering.
“Dit kan net werk as dit van twee kante af kom,” sê Du Toit. “Wanneer die grootouer moeite doen met die verhouding, en nie op ʼn voorskrywende manier nie, maar altyd in liefde. En as die kleinkind die grootouer nie as oorbodig ervaar nie en met respek hanteer.”
Hierdie spesiale verhouding is dus van onskatbare waarde vir al drie generasies: die grootouer, die volwasse kind en die kleinkind.
Veranderende rol van die oupa
Van al die rolle wat ons in ʼn gesinsverband vertolk is die mees unieke sekerlik dié van grootouer.
Met verloop van tyd het die woord “grootouer” amper sinoniem geraak vir “ouma”. Dis opvallend hoe die literatuur rakende grootouers dikwels die rol van die ouma beklemtoon terwyl dit die rol van die oupa óf oorsien óf as minder belangrik ag as dié van die ouma. Oumas word tradisioneel beskou as die grootouer met ʼn groter emosionele betrokkenheid en invloed op gesinsverhoudinge. Beide grootouers – oumas en oupas – lewer egter unieke bydraes tot die spesiale verhouding.
ʼn Oupa se rol binne die familie word tradisioneel beskou as meer subtiel en nie so emosioneel
betrokke soos dié van die ouma nie. Verskeie redes word hiervoor aangevoer. Die man word as die broodwinner gesien, met ʼn groter fokus op sy loopbaan. Dit duur noodwendig tot aftrede, waarna die klem verskuif na meer persoonlike aspekte binne die familieverband. Hierdie beeld van afsydige patriarg verander gaandeweg soos wat oupas ná aftrede emosioneel meer betrokke raak by onder meer ook hul kleinkinders, en beide die kleinkind en oupa vind die verhouding waardevol. Dis dus nie slegs oumas wat die emosionele omgeewerk doen nie: Daar het ʼn subtiele emosionele verdieping by mans en spesifiek die oupa plaasgevind, wat nie onderskat moet word nie.
Hoe word jy ʼn uitsonderlike oupa?
Vergader die magiese oomblikke saam met jou kleinkind!
Spesiale herinneringe as gevolg van gedeelde oomblikke beïnvloed die gehalte van die verhouding met jou kleinkind. Jy moet ʼn punt daarvan maak om hoogtepunte soos verjaardae, die eerste skooldag, matriekeksamen, gradeplegtigheid, eerste werk en ander hoogtepunte wat vir die kleinkind belangrik is te onthou en te deel in die plesier daarvan.
“Tyd speel ʼn belangrike rol,” sê Du Toit. “Die grootouer moet tyd maak vir sy kleinkinders, vandag nog. As jy wag tot jou aftreehuisie voltooi is, mag dit te laat wees. Dit moet in die hede gebeur.”
Elke kleinkind verdien ʼn besondere oupa wat
hom of haar deurgaans sal bewonder, ondersteun en spesiaal sal laat voel; wat te midde van teleurstellings en probleme altyd daar sal wees om ʼn veilige tuiste te bied. Dekades nadat jy nie meer hier is nie, sal hulle steeds waarde put uit die herinneringe van liefde, inspirasie, aanmoediging en wysheid. Maar, sê Du Toit: “Die oupa moet ʼn ‘sagte’ invloed hê, hy’s nie die kleinkind se opvoeder nie.”
Hoe lyk die verhouding wat jy met jou kleinkind wil bou en wat hoop jy om deur jou grootouerskap na
te laat? Het jou kleinkind ook die vrymoedigheid om soos Danie “Reënwolf” vir sy oupa te vra: “Oupa, wat is liefde?” en “Oupa, hoe het ʼn mens lief?”
Wat sal jou antwoord wees?
