Weerdink: Om ’n transnasionale grootouer te word (waar wetenskap en kuns ontmoet)

Grandma looking at her grandchild's drawing of a rainbow

Ons onthou heel dikwels nie spesifieke dae of ure nie, maar wel oomblikke. Betekenisvolle oomblikke. Soos om ʼn grootouer te word.

“Julle gaan oupa en ouma word.” Hierdie aankondiging is só ’n besonderse, lewensveranderende gebeurtenis. Talle grootouers ervaar hierdie nuwe rol op ʼn spirituele vlak,[1] selfs as ʼn religieuse gebeurtenis. Grootouerskap bied die geleentheid om opnuut by jou kinders se lewe betrokke te raak en ʼn dieper betekenis in jou lewe te vind.  Dit bied die geleentheid om die kleinkinders te sien ontwikkel en op ʼn liefdevolle manier ʼn impak op hulle lewens te kan hê. Hierdie emosionele betrokkenheid van die grootouer lê ʼn sterk grondslag in die kleinkind se ontwikkeling. Op hul beurt gee die kleinkinders groter betekenis aan die grootouer se lewe, wat noodsaaklik is vir gebalanseerde veroudering.

Daar is ook ander betekenisvolle oomblikke: die aankondiging: “Pa, Ma, ons gaan emigreer!”

Die emigrasie van individue en gesinne is vandag baie Suid-Afrikaners se werklikheid. Heelwat jong mense soek na groener weivelde elders in die wêreld. Hierdie groot verandering eis ’n tol op die emigrante én diegene wat in Suid-Afrika agterbly. Benewens ouderdom wat ’n rol speel in die intensiteit van die emosionele ervaring, moet die invloed van die afstand van verwydering ook in gedagte gehou word: verhuising binne Suid-Afrika maak reeds ’n groot impak; verhuising na ’n ander kontinent kan as traumaties ervaar word.

Vir diegene wat agterbly, was daar soveel verwagtinge van ʼn gedeelde toekoms wat nou stomp beëindig is. Onuitgeklaarde verlies loop soos ʼn goue draad deur hierdie verhale.

Waar wetenskap en kuns ontmoet

As navorser het ek die voorreg om emigrante en hul geliefdes se lewensreise te deel en ’n kykie in hul leefwêrelde te verkry. Maar met die kliniese rapportering van hierdie wetenskaplike navorsing is die fokus dikwels op statistiek. Wanneer die getalle op die voorgrond tree, raak die mens agter die statistiek maklik verlore. In teenstelling met hierdie kliniese aanslag kan digkuns innerlike beelde by die leser oproep. Hierdie verbeeldingsprente bewerkstellig dan ’n beter begrip van ’n persoon se ervaring omdat dit die belewenis van mense wat geraak word deur emigrasie, effektief inkleur.

In my navorsing oor die grootouer se belewenis van die emigrasie van hul kinders en kleinkinders was ek bevoorreg om ʼn spesiale gedig te ontdek wat hierdie bevindinge op ʼn heel ander wyse weergee. ʼn Gedig het die potensiaal om die klinies-rasionele te oortref en op ʼn baie meer emosionele vlak met ʼn mens in gesprek te tree. Met hierdie gedig word ons gedwing om verby die statistiek te kyk en te fokus op die individu en haar emosies, hoe die ervaring van emigrasie haar menswees raak. Die skanse vervaag en skielik het ons met ʼn mens te doen. Die stem van ʼn digter, in hierdie geval ʼn ouma, word ontdek.

Dit het gevoel asof hierdie ouma haar hart uit haar lyf haal, dit op die tafel voor my neersit en my uitnooi om mooi te kyk.

Gedig: Onthou My

Lees gerus die gedig, “Onthou My”.

Die voorlesing van die gedig vind aanklank by die artikel.

Asseblief onthou my…

Weens globalisering is emigrasie en die emosionele effek daarvan vir Suid-Afrikaners ʼn teer punt. Dit is noodsaaklik dat die soeklig op die effek van transnasionalisme gewerp word. ’n Groter bewustheid van transnasionalisme is die eerste stap in die proses om nuwe maniere van saamwees, asook maniere om die verlies en verlange te hanteer, die hoof te bied.

LitNet