Die relatiwiteit van emigrasie

Die relatiwiteit van emigrasie

As ’n gesinsterapeut wat spesialiseer in die emosionele effek van emigrasie word ek gedurig herinner aan die eindelose moontlikhede en uitdagings wat in die 21ste eeu deur emigrasie teweeggebring word. Transnasionale gesinne word gekonfronteer met veral die nuwe werklikheid, wat behels dat hulle op verskillende kontinente kan woon met digitale vorme van kommunikasie as die primêre verbindingsmiddel.

Oënskynlik blyk emigrasie betreklik eenvoudig te wees. By nadere ondersoek is dit egter duidelik dat emigrasie ’n komplekse verskynsel met verreikende gevolge is. Op ’n soortgelyke wyse kan Relatiwiteit, ’n kunswerk deur MC Escher, redelik ongekompliseerd lyk, maar by nadere ondersoek ervaar die kyker dieselfde gevoel van ontnugtering. 

Relativity van MC Escher word as verwysing gebruik in die ondersoek na hierdie komplekse emosionele ervaring. Kuns word die medium waarmee die kontemporêre verskynsel van emigrasie ontsluit word en wat verder strek as wat enige rasionele denke ooit kon droom om te doen.

Escher se realiteit 

Die litografiese drukwerk Relativity van die Nederlandse grafiese kunstenaar MC Escher, wat van die mees onvergeetlike beelde van die 20ste eeu geskep het, dateer uit 1953. Die litograaf weerspieël die onstabiliteit van die lewe in Europa ná die Tweede Wêreldoorlog, met talle mense wat ontwortel is en uit hul geboorteland verwyder is.

Met die kunswerk beeld hy ’n wêreld uit waarin die normale wet van gravitasie nie geld nie. Die gedetailleerde argitektoniese komposisie van verskeie stelle trappe wat op talle horisontale en vertikale vlakke ontmoet is met mekaar verweef in wat met die eerste oogopslag sin maak. Dit blyk egter by nadere ondersoek ’n stel illusies te wees wat in die werklikheid onmoontlik is en die toeskouer verward laat. 

Die verwarring word versterk deur figure wat, alhoewel hulle dieselfde stel trappe op- en afklim en binne mekaar se gesigsveld paaie kruis, onsigbaar vir mekaar blyk te wees.

Escher beskryf hierdie unieke kunswerk as volg: 

Here we have three forces of gravity working perpendicularly to one another. Three earth-planes cut across each other at right angles, and human beings are living on each of them. It is possible for the inhabitants of different worlds to walk or sit or stand on the same floor, because they have differing conceptions of what is horizontal and what is vertical.1

Die ophef van die normale wet van gravitasie skep ’n skynbaar onoplosbare raaisel. 

Escher beskryf ’n ongewone werklikheid waarin ’n eindelose optog van gesiglose figure ’n meganies-aangedrewe wêreld bewoon. Hierdie onwerklike argitektoniese konstruksie wek ’n verontrustende gevoel by die aanskouer en simboliseer die emosionele ervaring van emigrante en hul geliefdes wat agterbly. Hulle ervaar hul wêreld as “ontkoppel” – ’n versinnebeelding van die transnasionale gesin.2

Escher se kunswerk dra ’n “innerlike visie” oor van ’n nuwe werklikheid met inwoners op verskillende vlakke, sonder duidelike bewustheid van die ander se bestaan. Hulle ervaar die werklikheid as relatief eerder as absoluut. Escher se kombinasie van gedetailleerde realisme en fantasie skep ’n ouwêreldse gevoel wat bekend is aan die verbrokkelde gesinne wat deur emigrasie geraak word.3

Nog steeds ’n gesin? 

Emigrasie skep ’n ambivalente werklikheid wat die konvensionele definisie van ’n gesin bevraagteken. In sy eenvoudigste vorm bestaan ’n gesin uit twee ouers met een of meer kinders wat dieselfde fisiese ruimte deel. 

’n Volwasse kind wat emigreer word ’n wêreldburger. Ouers en sibbe wat agterbly, ervaar ’n groeiende dubbelsinnigheid in hulle ervaringe: Die gesinslede deel ’n gemeenskaplike geskiedenis, maar gaan ’n onbekende toekoms tegemoet. Escher se onmoontlike argitektoniese konstruksie vang hierdie verwarrende nuwe werklikheid treffend vas. Soortgelyk aan die figure in die litografie wat op oneindige stelle trappe by mekaar verby bly beweeg, sonder teken van bewustheid van mekaar, word transnasionale gesinne geografies steeds verder van mekaar verwyder. 

Geliefdes het die behoefte om steeds na mekaar uit te reik en deel van mekaar se wêrelde te wees, maar die werklikheid is dat hulle nou in verskillende dimensies leef. In die geïsoleerde wêrelde maak die verskillende kulture en wêreldbeskouings dit met verloop van tyd nog moeiliker vir transnasionale gesinne om mekaar volledig te verstaan.

Jou wêreld en my wêreld 

Elke gesinslid se belewenis van hul nuwe werklikheid is uniek. Dit is ’n voortdurende uitdaging om in mekaar se lewens betrokke te bly deur jou te probeer indink waarmee jou geliefdes hulleself tans besig hou in die verre land. Die gevolg van om uit ritme met jou geliefdes te wees, is dat ervaringe as relatief beleef word. 

Spontane kommunikasie word belemmer deur vrae soos: Slaap hulle op die oomblik? Is dit nou familietyd of is hulle op reis? Gesinslede moet dus noukeurig die volgende telefoonoproep of ander vorm van virtuele kommunikasie beplan. Diegene in die land van oorsprong mag wonder: Sal ons met verloop van tyd van mekaar vervreemd raak? Sal hulle uiteindelik van ons vergeet? Ook die emigrant mag uitgesluit voel as hulle familiebyeenkomste misloop. Beide die emigrant en geliefdes wat agterbly mag soortgelyke emosies ervaar, soos hoop, verlange of onsekerheid, en kan dus hopelik in hulle verskillende dimensies empatie met mekaar hê.

Afgesien van hierdie bewustelike faktore wat gedrag beïnvloed, is daar ook onbewustelike faktore, soos nuusopskrifte oor vloede, wegholbrande of misdaad wat dikwels angs en vrees by gesinslede tuis kan skep, terwyl die geliefdes in die buiteland dalk glad nie deur die gebeure geraak word nie.

Hou my deel van jou wêreld

Ten spyte van die verwarrende omgewing, beweeg die figure in die kunswerk vorentoe om die “trappe” te navigeer en sinvol hul weg te vind. Hierdie veerkragtigheid weerspieël die vasberadenheid van emigrante om die emosionele uitdagings van emigrasie kreatief te kan trotseer. 

Die verhouding tussen die emigrant en diegene wat in die land van herkoms agtergebly het strek veel dieper as bloot oppervlakkige en fisieke verbindings. Die gedeelde geskiedenis van ervarings skep ’n bekende ruimte waarin transnasionale gesinsverhoudings kan voortduur. Dit verg egter kreatiwiteit om die raaisels op die vele vlakke van geskeide beleweniswêrelde te probeer oplos. Sodoende kan ’n reeks anonieme figure op ewige stelle trappe met mekaar in verbinding tree en daardeur steeds deel van mekaar se wêrelde bly. 

“In my prints I try to show that we live in a beautiful and orderly world and not in chaos without norms, as we sometimes seem to.” – MC Escher4

In ’n wêreld gedefinieer deur logika en rasionaliteit dien kuns as ’n kragtige medium wat ons bewus maak van waarhede wat veel dieper strek as wat op die oog af lyk. As ’n visuele metafoor maak kuns dit moontlik om sin te maak van die veelkantige werklikheid van emigrasie.

Kuns het immers geen grense nie.

 

1 https://im-possible.info/english/art/escher/relativity.html
2 https://www.theguardian.com/artanddesign/2015/jun/20/the-impossible-world-of-mc-escher.
3 MC Escher collection. s.j. Beskikbaar: https://mcescher.com/ (27 Mei 2023 geraadpleeg).
4 MC Escher: 29 master prints. 1983. New York: Harry N Abrams.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *