9 Februarie 2024
DIE komplekse ervaring van emigrasie is nie altyd maklik om in woorde te omskryf nie, soos ek gereeld in my beroep as emigrasieterapeut ondervind. Anders as 'n mediese spesialis wat anatomiese plastiekmodelle van knieë en skouers kan gebruik om 'n probleem te verduidelik, is die beskrywing van 'n vae emosie soos onafgehandelde verlies ’n uitdaging.
In die lang stiltes wat inherent is aan gesprekke met emigrante, wens ek soms dat daar 'n visuele voorstelling beskikbaar is wat die essensie van emigrasie kan weerspieël – iets wat die dieperliggende emosies van die emigrant kan help verken.
Die vraag oor hoe emigrasie “lyk” en of dit moontlik is om dit in 'n enkele beeld, foto of kunswerk vas te vang, beklemtoon die unieke aard van hierdie fenomeen. Dit is 'n interessante uitdaging om deur middel van ‘n model of visuele voorstelling die essensie van emigrasie vas te vang.
Emigrasie word dikwels romantiseer as 'n sprokiesagtige reis na ‘n nuwe begin, welvaart, veiligheid en geluk. Maar emigrante se verhale skets egter dikwels ‘n heel ander prentjie – dit is deurdrenk met kompleksiteit en verwarrende en dikwels teenstrydige emosies.
Emigrante bevind hulself in 'n nuwe, onbekende wêreld: te midde van vreemde kulture en ander gebruike. Die volle spektrum van emosies wat met emigrasie gepaard gaan kan gewoonlik nie voorsien word nie. Dit is nie ‘n blote eksperiment wat sonder enige gevolge omgekeer kan word nie.
Hierdie tussen-in ruimtes het ‘n veel groter impak as slegs die plekke van vertrek en aankoms soos dit blyk uit ‘n paspoort vol stempels. Die somtotaal van emigrasie is veel meer as die fisiese verandering van woonplek. Die bittersoet realiteit van hierdie lewensveranderende proses sluit ook 'n emosionele reis van verandering, losmaking en die begin van ‘n nuwe hoofstuk in.
“Het jy al hierdie beelde gesien?” lui ‘n vriendin se boodskap, met ‘n foto van stukkende figure. Dis lewensgrootte, treffende beeldhouwerke van mense wat iewers heen op pad is, tas in die hand, met gedeeltes van hulle liggame wat uitgehol is. Tog behou hulle hul balans in die wind en die weer.
Dit is die unieke kuns van die Franse beeldhouer Bruno Catalano. Sy kunswerke weerspieël 'n diepgaande empatie en begrip vir die emigrant se ervaring. Sy inspirasie is gewortel in sy persoonlike ervaring om bykans alles agter te laat, om 'n onseker toekoms tegemoet te gaan.
Hy is gebore in 1960 in Casablanca, Marokko. Sy gesin het na Marseille verhuis toe hy tien jaar oud was. Hy is aanvanklik deur sy vader as 'n elektrisiën opgelei en het later op skepe gewerk. Dit was eers in sy dertigerjare dat hy sy passie vir kuns en klei beeldhouwerk ontdek en begin ontgin het.
In September 2013 is tien van Catalano se lewensgrootte brons beeldhouwerke in die hawe van Marseille uitgestal om die stad se status as die Europese kultuurhoofstad te vier. Hierdie brons beeldhoufigure word nou oral oor die wêreld vertoon, en sy bekendste werk het 'n permanente tuiste in Calgary, Kanada, gevind.
Catalano se kuns is bekend vir die groot gapings in die borsgedeelte van die figure, wat die onvolledigheid van die figuur uitbeeld. As gevolg van hierdie negatiewe ruimte of holtes kan jy dwarsdeur die figuur sien. Die leemte verhoed nie die figuur om doelgerig aan te hou beweeg nie en is in delikate balans.
Sy kuns word onderskei deur die noukeurige en simboliese benadering tot die tema. Hy “skeur” doelbewus hierdie figure in die was-stadium, 'n proses wat die unieke pyn van skeiding wat emigrante dikwels ervaar, weerspieël. Hierdie fisiese skeure is nie net ‘n artistieke uitdrukking nie – dit beeld die emosionele ervarings uit en versinnebeeld die innerlike stryd van dié wat tussen twee wêrelde verskeur word.
Opvallend is die tasse wat elke figuur met hom saamdra. Die tas verbind die uigeholde gedeelte van die bors met die onderkant van die beeld - die enigste skakel tussen die kop en die voete, tussen denke en liggaam.
Vir Catalano is die tas meer as ‘n blote houer vir die karwei van besittings. Die tas is 'n simbool van herinneringe en persoonlike ervarings wat die emigrant anker en hom verbind met sy wortels en plek van oorsprong.
Die tas verpersoonlik die verlede en ondervindinge van die eens bekende, wat die nodige ondersteuning bied om die beeld vorentoe te projekteer op sy reis na onbekende bestemmings.
Die opneem van die tas en om van die bekende af weg te stap, dui op 'n veerkragtigheid. Dit toon ‘n bereidwilligheid om verandering te omhels, nuwe horisonne te bly verken en die uitdagings wat voorlê, met moed aan te pak.
In die taal van Catalano se kuns, word die tas die simbool van 'n lewe in transito, die voortdurende soeke na 'n plek om "huis" te noem in 'n veranderende wêreld.
Kunstenaars gebruik dikwels hul persoonlike ervarings om ‘n universele belewenis uit te druk, wat aanklank vind binne gemeenskappe, plaaslik én selfs wêreldwyd. Die "in transito" beeldhouwerke oorbrug die gaping tussen die uiterlike wêreld van ervarings en die innerlike wêreld van emosies.
Hierdie kunswerke spreek nie net tot die reis van emigrante nie, maar verpersoonlik ook die breër lewensreis van die mens met al sy kwesbaarhede. Woordeloos, spreek dit tot die hart van die emigrant, asook tot die nomadiese gees in elkeen van ons. Hierdie unieke kuns beklemtoon die reis eerder as net die bestemming.
Dalk is dit presies hoe emigrasie lyk?