2 September 2023
Sowat 23 000 Suid-Afrikaners roep Suid-Afrika elke jaar vaarwel – hetsy vir avontuur, ’n nuwe werksgeleentheid, veiligheid of ’n beter toekoms.
Dr. Sulette Ferreira, ’n familieterapeut wat in berading en navorsing vir gesinne wat emigreer spesialiseer, sê elke emigrasie is uniek. “Ek sien beslis ooreenkomste, maar elkeen ervaar dit anders.”
Dit is daarom belangrik dat Suid-Afrikaners hul emosioneel voorberei op die emosies wat voor én na daardie vlug na elders soms die oorhand kan kry.
Ferreira verduidelik daar is drie fases van emigrasie: Die voorbereidings, die afskeid op die lughawe en die daarna; elkeen van dié fases kan emosioneel sy tol eis.
Vir talle emigrante is die maande in aanloop tot die emigrasie na elders reeds ongelooflik traumaties. “Jy neem in daardie maande afskeid van ’n lewe wat jy goed geken het,” verduidelik Ferreira. “Hier weet jy waar jou winkel is. Jy weet in watter ry jou kos is. Jy het jou ondersteuningstelsel. En ewe skielik moet jy emosioneel daarvan afskeid neem.”
Dán kom die afskeid op die lughawe – die kortste fase, maar die fase wat die meeste onderskat word. “Dit is ’n kort, maar verskriklik emosionele fase vir almal betrokke,” verduidelik Ferreira. Sy wys ook daarop dat dié fase ook nie noodwendig makliker raak wanneer ’n emigrant in die toekoms kom kuier en weer na die vreemde moet terugkeer nie.
“Elke ouer met wie ek praat, getuig daarvan dat die afskeid neem daarna amper meer traumaties as die eerste afskeid is. Want jy weet wat kom. Daar is ook die bekommernis oor wanneer ek my kind weer sien.”
Dan kom die fase wanneer die emigrant in die vreemde land en sy of haar lewe daar moet vestig.
“Dit voel amper vir my of só ʼn persoon in ’n werklikheidsreeks is. Alles wat bekend is, word van jou ontneem. Jy word in ’n totale vreemde situasie geplaas en daar word vir jou gesê om ’n sukses daarvan te maak.”
Ferreira sê die verlies aan ’n ondersteuningsnetwerk is baie traumaties gedurende dié fase. Dit word boonop vererger wanneer daar ’n groot tydsverskil is, soos in die geval van Australië en Nieu-Seeland. “Ek sê altyd jy verlang nie eers op dieselfde dag nie.”
Dan is daar ook die skuldgevoelens waarmee ’n emigrant moet worstel. “Hulle wonder of hulle ouers orraait gaan wees in Suid-Afrika. Maar ek sê altyd vir ouers dis belangrik om die ouer te bly – selfs oor afstand heen – en in beheer van jou emosies te bly.”
Ferreira stel dit egter baie duidelik dat daar nie net negatiewe aspekte aan emigrasie is nie en dat talle Suid-Afrikaners dolgelukkig is in die vreemde.
Dit is ook baie belangrik om te onderskei tussen sielsongelukkigheid en blote verlange na die huis (home sickness).
“Hierdie is nie om te sê hoe verskriklik emigrasie is en om jou daarvan af te raai nie. Dit is wel belangrik om te weet dat daar snellerpunte (trigger points) gaan wees. Dit is ook baie belangrik om te weet ons is nie almal emigrante nie. Ons is nie almal gemaak om daar ver aan te pas nie en dit is oukei. Dan is daar weer diegene wat eenvoudig moet gaan. Hierdie persone is verskriklik aanpasbaar en hou van uitdagings.”
’n 42-jarige Suid-Afrikaner – wat in September 2019 saam met haar gesin Kempton Park aan die Oos-Rand vir Devon in die suidweste van die Verenigde Koninkryk verruil het – vertel dat dit die beste besluit was wat sy en haar man destyds vir hul twee dogters kon neem.
Die gesin is ná vier jaar eindelik gevestig en erken dat hulle tans geen benul het waar die sleutel van die voordeur is nie aangesien dit daar in die vreemde nie nodig is om agter slot en grendel te woon nie.
Dit was egter die moeilikste ding wat sy nóg moes doen, erken die Suid-Afrikaner, wat verkies het om anoniem met Maroela Media te gesels, ruiterlik. “Emigrasie is nie vir sissies nie. Dit is nié maklik nie. Veral wanneer jy ouer is.”
’n Suid-Afrikaner wat in Januarie 2022 saam met haar gesin van Centurion na Silverdale naby Auckland in Nieu-Seeland geëmigreer het, beaam dit. “Ek het nog nooit so baie in een jaar gehuil nie,” erken sy dadelik.
“Dit is ’n baie groot lewensveranderende ding om te emigreer en ’n mens besef nie die impak daarvan dadelik of op een slag nie. Soos wat die weke en maande verbygaan, beleef jy oomblikke wat jou soos ’n hamer tref of jou wind uitskop en jy wonder waar bevind jy jou en hoe het jy hier beland. En jy huil, ek het nog nooit so baie in een jaar gehuil nie.”
Dié Suid-Afrikaner stem saam met Ferreira dat elke emigrant se reis en belewenis uniek is. “Almal huil nie noodwendig so baie nie. My huil was helend.”
Sy vertel dat haar gesin redelik maklik in Nieu-Seeland geaard het weens die gematigde klimaat. “Hier is ook ongelooflik baie Suid-Afrikaners. Jy hoor elke dag Afrikaans en die produkte waaraan ’n mens gewoond is, is of in die gewone winkels beskikbaar of by ’n Suid-Afrikaanse winkel.
“Ons het ’n taamlike goeie idee gehad wat om te verwag. Ons het vooraf goed na omgewings en huise gekyk, asook baie inligting by vriende gekry wat reeds in Nieu-Seeland was. Die verwagting was redelik naby aan die realiteit.”
Tog het haar emosies en haar gesin s’n soms die oorhand gekry. “Ons almal was baie meer emosioneel. My oudste het sy maatjies vreeslik gemis. Ek dink as die tuisbly-ma, het dit my mentally die ergste getref. Jou man gaan werk, die kinders gaan skool toe en jy is skielik alleen in ’n huis waar jy moet begin sin maak van dinge en ’n nuwe roetine en normaal moet skep.”
Die Suid-Afrikaner sê dit is belangrik om nie altyd Suid-Afrika met jou nuwe tuiste te vergelyk nie. “Maar jy moet iets vir iets verruil. En ons ruil ons wonderlike somers vir ons vryheid hier. Ons ruil ons familiesaamwees vir ’n beter toekoms vir ons kinders. As jy dit nie kan doen nie, gaan dit baie moeilik wees.”