17 Oktober 2021
Ouers vertel om hul kinders en kleinkinders op die lughawe te groet, raak elke keer erger nadat gesinne geëmigreer het – van die eerste keer wat hulle permanent vertrek tot die groet as hulle weer kom kuier.
Lughawens is storiefabrieke – vir diegene wat emigreer en hul geliefdes wat agterbly. Dit is waar families afskeid neem en weer herenig word. Sulette Ferreira gee raad vir ouers wie se kinders emigreer.
Van al die veranderinge en uitdagings wat mense deur die loop van hul lewens moet hanteer, is min so verreikend en kompleks soos wanneer geliefdes emigreer.
Emigrasie is nie ’n nuwe of unieke verskynsel nie.
Sowat 3,5% van die wêreld se bevolking bly buite die grense van hul geboorteland. In 2019 was daar reeds ’n geraamde 272 miljoen emigrante wêreldwyd. Teen die einde van 2018 het sowat ’n miljoen Suid-Afrikaners na raming in die buiteland gewoon, wys data van die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM).
Elkeen van die fases is uniek met uitdagings wat die hoof gebied moet word voor die volgende fase aanbreek. Die emigrasieproses is nie eenvoudig nie en raak elke gesin op ’n ander manier.
Emigrasie is ’n lewensveranderende ervaring, nie net vir die diegene wat emigreer nie, maar ook vir die wat agterbly. Dit is ’n aktuele en emosionele onderwerp en die lughawe is ’n sleutelpunt in die vertelling van ouers wie se kinders emigreer.
Die lughawe is ’n belangrike skakel in die reeks gebeure rakende emigrasie. Dit is die simbool van die oorgang en ’n soort “tussen-in-ruimte”. Dit is in dié openbare ruimte waar rou, persoonlike emosies hulle uitspeel.
Drie fases vorm deel van die ouer se ervaring wanneer hul kinders en kleinkinders emigreer.
Elkeen van die fases is uniek met uitdagings wat die hoof gebied moet word voor die volgende fase aanbreek. Die emigrasieproses is nie eenvoudig nie en raak elke gesin op ’n ander manier.
Die eerste fase is die pre-emigrasie-fase – dit is die besluitnemingsproses oor emigrasie. Redes vir of ons moet bly of gaan word teen mekaar opgeweeg. Gewoonlik is daar nie net een enkele motivering vir emigrasie nie, maar ’n komplekse wisselwerking van faktore wat daartoe lei dat ’n persoon só ’n ingrypende en lewensveranderende besluit neem.
Daar word ook besin oor of so ’n skuif tydelik of permanent sou wees.
Die tydsverloop van dié fase verskil van gesin tot gesin en logistieke reëlings is ’n sleutelkomponent hiervan. Tydens dié fase verteenwoordig die lughawe ’n deur na nuwe geleenthede vir die volwasse kind. Vir die kind sowel as die ouers is dit ’n plek wat ’n wesenlike verandering in hul lewens verteenwoordig.
Die tweede fase is die fisieke vertrek van die gesin. Dis ’n kort, maar baie kragtige en emosiebelaaide fase. Die finale groet op die lughawe lê voor. Daar is weke, maande of jare lank hierop voorberei, maar dis vir ouers en kinders die eerste keer wat hulle die tasbare verlies ervaar.
So vertel ’n ma: “Vir my was die heel ergste toe my oudste dogter vir my sê sy wil nie hê ek moet saamgaan lughawe toe nie. Ek het die hele dag lank by die werk gehuil, maar later besef dit was tog ’n goeie idee.”
Vir diegene wat agterbly is die lughawe ’n simbool van verlies – ’n plek gevul met emosies soos hartseer, vrees en eensaamheid. Baie mense wil glad nie oor die afskeidsproses praat nie, hulle gee tot op die laaste nippertjie voor dit gaan nie gebeur nie. Ons wil eenvoudig nie van geliefdes afskeid neem nie.
Ontkenning mag vir sommige mense ’n manier wees om die seer te hanteer, maar dit kan ook tot ’n meer emosionele afskeid lei. Bespreek vooraf met jou kinders hoe hulle gaan afskeid neem – dit kan die proses help versag en jou voorberei op die finale groet.
Sommige families verkies om tuis (of op enige ander plek behalwe die lughawe) van mekaar afskeid te neem. Die groet op die lughawe is vir almal ’n emosionele ervaring – vir die wat vertrek en vir die wat agterbly.
Daar is nie voorgeskrewe rituele oor hoe om dié “totsiens sê” te hanteer nie en daarom is dit belangrik om jul eie rituele te ontwikkel. ’n Klein, persoonlike geskenk soos ’n gelukbringertjie wat met die afskeid oorhandig word, kan ’n nuwe ritueel vir die groetslag skep.
Die lughawe is vol mense, maar niemand daar sal so eensaam voel soos die ouers wat pas hul kinders en kleinkinders moes groet nie. Dit is veral intens as daar onsekerheid is oor wanneer almal mekaar weer sal sien.
Gun jouself die geleentheid om die hartseer en al die emosies te ervaar wat met die groetslag gepaardgaan.
Die beste hanteringsmeganisme is om dadelik planne te beraam oor wanneer julle mekaar weer kan sien. Beplan jou volgende besoek nog voordat jou kinders vertrek het. Kuiers is nie almal beskore nie, maar vir diegene wat dit kan bekostig, gee dit iets om na uit te sien.
Die wat nie fisieke besoeke kan bekostig nie, kan kuiersessies in die kuberruimte beplan.
Die laaste fase breek aan nadat die gesin vertrek het. Families besef dat hul fisieke ervarings en samesyn tot ’n einde gekom het. Dit is die langste fase waartydens die kinders en kleinkinders hulle vestig in hul nuwe omstandighede en die geografiese afstand verander verhoudings.
Met besoeke aan die geboorteland is die lughawe opnuut ’n belangrike plek – dit is ’n toegangspoort tot die kinders wat geëmigreer het.
Ouers wat in Suid-Afrika agterbly, sê hulle het gedink die eerste afskeid sal die ergste wees, maar dit word inderwaarheid elke keer moeiliker.
’n Ouer stel dit so: “Nee, dit raak nie makliker nie. Dit is soos iets in jou wat afgesny is en wat eers terugkom as die kinders terug is. Dit word nie makliker nie.”
Die ouers besef die besoeke is tydelik en die afskeid is opnuut moeilik.
Stel ’n kommunikasieplan saam met jou geliefdes op om seker te maak julle praat gereeld en behou kontak. Tegnologie vergemaklik kommunikasie en alle rolspelers kan aktief betrokke bly by mekaar se lewens.
Wend ’n doelgerigte poging aan om belangrike sake te bespreek, soos byvoorbeeld jou gesondheid of finansiële sake, sodat jou kind op die hoogte kan bly van jou omstandighede. Sorg dat jy ook weet wat in jou kinders en kleinkinders se lewens aangaan – hulle het jou ondersteuning nodig al is jy nie meer fisiek by hulle nie.
Jy kan steeds ’n emosionele bydrae lewer met jou raad, bystand en leiding.
Die tydperk in jou lewe waar jy fisiek die rol van die aktiewe en betrokke ouer speel is nie onbeperk nie.
As ouers is ons geneig om aan ons kinders te wil vashou. Met emigrasie word ons gedwing om hulle fisiek te laat gaan. “Mense wat nie in hierdie situasie is nie, sal nooit verstaan nie. Sal nooit weet hoe hartseer ’n lughawe my maak nie, daardie alleen huis toe gaan . . .” vertel ’n pa wie se kinders geëmigreer het.
Vir die ouers wat agterbly, bring emigrasie teenstrydige emosies. Hulle is dankbaar en verlig dat dit goed gaan met hul kinders, maar hulle sou veel eerder fisiek deel van hul lewens wou bly.
Is dit nie juis die paradoks van ouerskap nie?