Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Relocation

4 min

Emigrasie: Berei só voor vir die groot groet

Tuesday, November 5, 2024

7 Junie 2023

Volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) woon sowat 3,6% van die wêreld se bevolking buite die grense van hul geboorteland. In 2020 was daar reeds 281 miljoen migrante wêreldwyd.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Volgens die Verenigde Nasies het 914 910 Suid-Afrikaners teen die einde van 2020 in die buiteland gewoon – bykans 130 000 meer as vyf jaar tevore.

Emigrasie uit Suid-Afrika word aangedryf deur die onsekere politieke klimaat, misdaad, ’n tekort aan werksgeleenthede, die verval van infrastruktuur en korrupsie. Die sosio-ekonomiese en politieke faktore rakende emigrasie word gereeld ontleed. Maar wat van die emosionele impak daarvan?

Emigrasie vind nooit alleenstaande plaas nie. Die lewensveranderende besluit om die land te verlaat het langdurige gevolge, met ’n rimpeleffek wat wyer uitkring as slegs die emigrant en hul gesin. Dit het ook ’n uitwerking op die ouer (en grootouer) wie se volwasse kind geëmigreer het.

Die emigrasieproses

In ouers se belewenis van hul kinders en/of kleinkinders se emigrasie word drie fases onderskei: pre-emigrasie, die fisieke afskeid en ná-emigrasie.

• Pre-emigrasie: My kind het besluit om te emigreer

In hierdie eerste fase word die ouer ingelig oor die kind se voorneme om te emigreer. Die “emosionele reis ” rondom emigrasie begin gewoonlik lank voordat die emigrant Suid-Afrika fisiek verlaat. Die besluitnemingsproses is op die voorgrond en die redes om te gaan of te bly word teen mekaar opgeweeg. Die motivering vir emigrasie is ’n komplekse wisselwerking van faktore. Praktiese reëlings is legio en sluit die verkoop van ’n huis en voertuie, die verkryging van visums, die sluit van bankrekeninge en die kansellasie van byvoorbeeld versekering in. In die land waarheen daar geëmigreer word, is dit weer die verkryging van ’n motor (indien nodig), huis en skole wat opgeweeg moet word, wat op hul eie administratiewe nagmerries kan wees! Te midde van die warrelwind van logistieke reëlings is daar ook die emosionele aspek wat aan die proses gekoppel word.

Volwasse kinders soek dikwels steeds die goedkeuring en seën van hul ouers wanneer hulle lewensveranderende besluite neem soos dié oor emigrasie. Wanneer die emigrant weet dat die gesin, veral hul ouers, die besluit goedkeur en hulle ondersteun, kan dit daartoe bydra om die uitgerekte proses emosioneel minder spanningsvol te maak.

• Die fisieke groet: Lughawens is storiefabrieke

Die tweede fase is die fisieke afskeid waar die kinders se emigrasie ’n werklikheid word en die ouers en kinders dikwels ’n intense, tasbare verlies ervaar. In hierdie kort maar emosiebelaaide fase verteenwoordig die lughawe ’n deur na nuwe geleenthede vir die volwasse kind. Vir die ouer is die groet egter dikwels ’n toekomsdroom van samesyn wat nou aan skerwe lê.

So vertel ’n ma: “Vir my was die heel, heel ergste toe my oudste dogter vir my sê sy wil nie hê ek moet saamgaan lughawe toe nie. Ek het die hele dag lank by die werk gehuil, maar later besef dit was tog ’n goeie idee.”

Elke gesin moet hul eie rituele ontwikkel oor hoe om dié groet te hanteer. Gesels oor die afskeid op die lughawe, asook elke gesinslid se verwagtinge: Moet die familie saamgaan of eerder by die huis groet?

• Ná-emigrasie: My kind is in ’n ander land

Die derde fase breek aan nadat die gesin die land verlaat het. Families besef dat hul fisieke samesyn tot ’n einde gekom het. Sodra die kinders en kleinkinders in hul nuwe omgewing gevestig is, verander die geografiese afstand die verhouding onherroeplik. Ouers wat in Suid-Afrika bly, noem dat hulle gedink het dat die eerste afskeid die ergste sal wees, maar helaas word dit ná elke kuier selfs moeiliker: “Nee, dit raak nie makliker nie. Dit is soos iets in jou wat afgesny is en wat eers terugkom as die kinders terug is. Dit word nie makliker nie.”

Die ouers besef dat die besoeke slegs tydelik is en die onafwendbare afskeid opnuut moeilik gaan wees. Hierdie fase is die langste van die drie fases en hou talle uitdagings vir al die rolspelers in.

Die emosionele koste vir dié wat bly

Vandag bevind talle Suid-Afrikaanse ouers hulself in die situasie waar hul kinders en kleinkinders geografies van hulle geskei is. In my navorsing rakende die ouer wat in Suid-Afrika bly ná die emigrasie van hul volwasse kind, vleg verlies soos ’n goue draad deur die proses.

Emigrasie laat ouers soms ’n onuitgeklaarde of dubbele verlies ervaar. Die gevoel van voortslepende afskeid en ’n onvervulde behoefte om naby hul kinders te wees, maak gereeld amok met hul emosies. Die verlies van “wat kon gewees het”, vertraag die rou-proses. Dit strook met onlangse navorsing wat toon dat daardie ouers meer kwesbaar is weens die groeiende behoefte aan versorging, waarin hul kinders nou moeiliker ’n rol kan speel. In stede daarvan om deur hul familie versorg te word, is grootouers nou op betaalde versorgingsdienste aangewese. Dit laat ouers gevolglik meer geïsoleerd en eensaam voel, wat gepaard gaan met ’n toenemende gevoel van verlies, hulpeloosheid en depressie.

Vroue (en veral ma’s en oumas) het ’n behoefte daaraan om meelewende versorging te bied en aktief by hul kinders betrokke te wees. Met emigrasie word die uitleef van die behoefte belemmer en laat die ouer met ’n gevoel van magteloosheid.

Transnasionale ouers, ervaar teenstrydige emosies: Terwyl hulle dankbaar en verlig is dat dit met hul kinders goed gaan en hulle ’n beter lewe in ’n suksesvolle land ervaar, sou hulle tog verkies dat die kinders fisiek deel van hul lewe bly.

Verhoudings is kosbaar

Die emosionele koste van emigrasie dwing ons om te herbesin oor betrokkenheid en nuwe metodes te ontwikkel om met familie wat ver is te kommunikeer.

Werk aan ’n plan om kontak met jou geliefdes te behou deur die nuutste kommunikasietegnologie te gebruik. Bly op die hoogte van gebeure in jou kinders en kleinkinders se lewe. Betrek jou buitelandse kind in jul lewens. Oor afstand en tydsones heen lewer ouers met hul wysheid en onvoorwaardelike liefde steeds ’n onskatbare bydrae. Hulle het steeds jul ondersteuning as ouers net so nodig soos wat julle hulle as kinders nodig het. Indien dit finansieel moontlik is, is kuiers die ideale manier om gesinsbande te versterk. Vir diegene wat nie fisieke besoeke kan bekostig nie, is gereelde kuiersessies in die kuberruimte noodsaaklik.

Emigrasie dwing ons om verhoudings te prioritiseer en te koester.

Share this post

Relocation

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.