Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Ambiguous loss

3 minutes

Emigrasie gesprekke : Eerste gesprek

Monday, February 3, 2025

Die emigrasie proses

In ouers se belewenis van hul kinders en/of kleinkinders se emigrasie word drie fases onderskei naamlik: pre-emigrasie, die fisieke afskeid en ná-emigrasie.

 

· Pre-emigrasie: My kind het besluit om te emigreer

In hierdie eerste fase word die ouer ingelig oor die kind se voorneme om te emigreer. Die “emosionele reis ” rondom emigrasie begin gewoonlik lank voordat die emigrant Suid-Afrika fisies verlaat. Die besluitnemingsproses is op die voorgrond en die redes om te gaan of te bly word teen mekaar opgeweeg. Die motivering vir emigrasie is ’n komplekse wisselwerking van verskeie faktore. Praktiese reëlings is legio en sluit die verkoop van ’n huis en voertuie, die verkryging van visums, die sluit van bankrekeninge en die kansellasie van byvoorbeeld versekering in. In die land waarheen daar geëmigreer word, is dit weer die verkryging van ’n motor (indien nodig), huis en skole wat opgeweeg moet word, wat op hul eie administratiewe nagmerries kan wees! Te midde van die warrelwind van logistieke reëlings is daar ook die emosionele aspek wat aan die proses gekoppel word.

Volwasse kinders soek dikwels steeds die goedkeuring en seën van hul ouers wanneer hulle lewensveranderende besluite neem soos dié oor emigrasie. Wanneer die emigrant weet dat die gesin, veral hul ouers, die besluit goedkeur en hulle ondersteun, kan dit daartoe bydra om die uitgerekte proses emosioneel minder spanningsvol te maak.

 

· Die fisieke groet: "Lughawens is storiefabrieke"

Die tweede fase is die fisieke afskeid waar die kinders se emigrasie ’n werklikheid word en die ouers en kinders dikwels ’n intense, tasbare verlies ervaar. In hierdie kort maar emosie belaaide fase verteenwoordig die lughawe ’n deur na nuwe geleenthede vir die volwasse kind. Vir die ouer is die groet egter dikwels ’n toekomsdroom van samesyn wat nou aan skerwe lê.

So vertel ’n ma: “Vir my was die heel, heel ergste toe my oudste dogter vir my sê, sy wil nie hê ek moet saamgaan lughawe toe nie. Ek het die hele dag lank by die werk gehuil, maar later besef dit was tog ’n goeie idee.”

Elke gesin moet hul eie rituele ontwikkel oor hoe om dié groet tehanteer.

 

· Ná-emigrasie: "My kind is in ’n ander land"

Die derde fase breek aan nadat die gesin die land verlaat het. Families besef dat hul fisieke samesyn tot ’n einde gekom het. Sodra die kinders en kleinkinders in hul nuwe omgewing gevestig is, verander die geografiese afstand die verhouding onherroeplik.

Ouers wat in Suid-Afrika bly, noem dat hulle gedink het dat die eerste afskeid die ergste sal wees, maar helaas word dit ná elke kuier selfs moeiliker: “Nee, dit raak nie makliker nie. Dit is soos iets in jou wat afgesny is en wat eers terugkom as die kinders terug is. Dit word nie makliker nie.”

Die ouers besef dat die besoeke slegs tydelik is en die onafwendbare afskeid opnuut moeilik gaan wees. Hierdie fase is die langste van die drie fases en hou talle uitdagings en belonings vir al die rolspelers in.

 

Share this post

Ambiguous loss

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.