Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Relocation

6 min

Emigrasie: Oor komplekse verlies en vae verlangens

Tuesday, November 5, 2024

26 Oktober 2021

As navorser het ek soms die voorreg om vir ‘n kort rukkie in mense se lewensreise te deel. Dit gee my ‘n kykie in hulle leefwêreld, deur wawyd oop harte of soms net deur ‘n skrefie-venster.

“Kom gerus binne,” nooi die statige dame van 70 jaar. Haar knus meenthuis is versier met jare se herinneringe, keurig uitgestal, wat getuig van ‘n leeftyd van liefdevolle verhoudinge en soveel ervarings. Sy bedien vir ons rooibostee in fyn, wit en pienk roos-versierde koppies.

Ek skakel die bandspeler aan. “Vertel my asseblief die verhaal van u dogter wat geëmigreer het.” Sy kyk stip voor haar uit, haar stemtoon dra gesag en in die suiwerste Afrikaans ontvou ‘n lewensverhaal wat my vir altyd sal bybly:

“Sy was so ‘n integrale deel van my lewe. Vir haar troue maak ek vir haar ‘n trouboek. Die aanhef is in die vorm van ‘n brief, waarin ek my hart uitstort: “Jy is die wonderlikste ding wat in my lewe kon gebeur.
“My moeder se naam was ook ‘M’, ek sê aan die begin van my lewe het ek ‘n ‘M’ gehad wat my hand vas gehou het en my gelei het. Die wonderlikste wat nou met my gebeur het is dat ek weer ‘n ‘M’ het wat aan die einde van my lewe ook my hand gaan vashou.
“Maar dit was net eenvoudig nie vir my beskore nie. En die wete dat ek haar in die mate moes ontbeer was vir my ‘n ongelooflike trauma. Alles waarna ons uitgesien het – ons saamwees, die belewenis van my kleinkinders, die totale integrasie wat daar tussen ons was, is net so stomp afgekap.”

Onuitgeklaarde verlies

In my studie rakende die ouer wat in Suid-Afrika agterbly ná die emigrasie van ‘n volwasse kind, loop verlies soos ‘n goue draad deur die emigrasie proses. Met emigrasie word elke rolspeler op ‘n unieke manier geraak en ervaar verskeie soorte verlies waarvoor die rou-proses belangrik is.

• Die volwasse kind wat hierdie lewensveranderende besluit neem, bevind homself in ‘n skyn-wêreld waarvan hy opnuut moet sin maak. Hy ervaar die verlies van sy moedertaal, die bekendheid van huis en omgewing, tradisionele waardes en gewoontes, familiebande en dalk ook geloofsuitdrukking.

• Vir die ouer maak die geografiese afstand ná emigrasie die kind gewoonlik onbereikbaar. Hierdie is ‘n “onuitgeklaarde verlies” waaroor boeke geskryf en films gemaak word.

Pauline Boss van die Universiteit van Minnesota definieer hierdie “ambiguous loss” as ‘n onsekere en onvoltooide verlies wat die rou-proses kan vertraag en belemmer. Boss onderskei twee tipes onuitgeklaarde verlies:

• Met die eerste tipe is die persoon fisies teenwoordig maar emosioneel afwesig, byvoorbeeld mense met Alzheimer se siekte, ernstige depressie, middel-afhanklikheid, chroniese siektestoestande, verslawing aan werk of rekenaarspeletjies. Die persoon is fisies aanwesig, maar word ervaar as emosioneel “afwesig”.

• Dan kan die emosionele band voortbestaan, al is ‘n persoon fisies afwesig. Voorbeelde is die emigrasie van ‘n geliefde, egskeiding en ‘n kind wat vir aanneming afgegee is. Afsluiting word bemoeilik deur die wete dat die persoon lewe, maar nie in persoon en tasbaar beskikbaar is nie.

So ‘n onuitgeklaarde verlies skep teenstrydige emosies en verwarring - ‘n vae verlange na iets of iemand, met geen einde in sig nie. Jou lewe vries in die oomblik en jy kan nie vorentoe of agteruit beweeg nie. Die gevolg is dikwels hartseer en depressie.

‘n Onuitgeklaarde verlies word soms nie deur die samelewing erken of gevalideer nie.

Hartseer en verlange

Emosies soos verlange dien om verhoudings in stand te hou en te bevestig, selfs oor groter afstande heen. Emigrasie se onuitgeklaarde verlies sluit in die verlange en begeerte om by jou kinders en kleinkinders te wees.

Die woordeboek definisie vir verlange beskryf “met begeerte uitsien na, om te begeer, heimwee”. Hierdie behoefte om graag weer by mekaar te wees op ‘n tasbare manier, die begeerte om met jou geliefdes herenig te word, lei tot aksie – jy wil die gaping oorbrug en die hunkering bevredig.

Met kinders wat in ‘n ver land woon, maak die groot afstand dit moeilik, veral in die tyd van Covid-19 inperking en landsgrense wat gesluit is.

Die gevoel van onbevredigde verlange word deur menige snellers beïnvloed. Musiek is een so ‘n sneller. Laurika Rauch se liedjie Blou spreek van die melancholie:

wie sou verstaan hoe ek sou voel
wie sou verstaan - oral om, om my heen is dit blou
want ek wil by jou wees
ek wil by jou wees vanaand

Twee ouers beskryf die gemis en begeerte van vae verlange om die gesin weer op een plek te verenig as volg:

“Jy weet, ek word partykeer in die nag wakker, weet jy, dat ek so ‘n intense verlange het na die kinders, dit is ongelooflik. Maar weet jy wat, snaaks, ek sê ... ek vertel dit nooit vir hulle nie, maar ek sê ek verlang, jy sê mos maar jy verlang. Maar ek dink nie hulle weet van ons regtige seer nie.”
“Maar nou ja, die romantiek daarvan is nou verby. Dit was my eerste verlies. En dan, elke keer wanneer ‘n mens dit vreeslik erg ervaar, is wanneer een van die kinders verjaar, of as daar dinge gebeur, wat belangrik is in hulle lewens en jy moet maar oor Skype daarvan hoor. Jy ervaar dit nie, nie soos wat dit hier was nie. Dis maar dit.”

Hantering van onuitgeklaarde verlies

Onuitgeklaarde verlies is nie problematies vir alle familielede nie. Vir sommige gesinne is die skeiding minder problematies, terwyl ander weer talle uitdagings ervaar. Dit kan verhoudings belemmer as mense op verskillende maniere rou.

Ons moet aanvaar dat die tydperk in die lewe waar ons fisies die rol van die aktiewe en betrokke ouer gespeel het, nie onbeperk kan voortduur nie. As ouers is ons geneig om aan ons kinders te wil vashou. Met emigrasie word ons gedwing om hulle fisies te laat gaan

‘n Betekenisvolle sosiale verhouding vereis egter langtermyn teenwoordigheid in mekaar se teenwoordigheid om kommunikasie te vergemaklik. Ouers moet daarom ná emigrasie nuwe metodes ontwikkel om in kontak met “die ver familie” te bly.

Die Internet maak dit vandag makliker – selfone se video- en stemtoepassings kan julle steeds teenwoordig laat voel in mekaar se lewens. Gee hulle ‘n blik wat in julle lewens gebeur. Dink jou ook in hulle leefwêreld in en hou die gesprekke interessant. Bly positief – hulle moet immers lus wees om weer te bel of selfs weer by die huis te kom kuier!

‘n Ander manier van kontak hou is om tasbare objekte, soos foto’s, briewe en gedenkwaardighede te gee. Die tasbaarheid van hierdie geskenke gee besondere waarde en so ‘n verpersoonliking van die verre geliefde is soms belangriker as die inhoud.

“Op die laaste dag het my seun my ‘n besondere geskenk gegee: ‘n amulet wat ‘n Maori aan sy geliefde gee as simbool van die besondere band wat hy met haar het. ‘n Tasbare simbool van wat hulle alles met mekaar gaan deel. Dis nou een van my kosbaarste besittings, al woon ons kontinente uit mekaar!”

Stuur ‘n geskenk vir daardie kleinkind en onthou asseblief om jou hart ook in die boks te sit!

Vrae vir bespreking

• Is daar ook ‘n verhaal van ‘n mooi en kosbare verhouding in jou lewe wat ineens en stomp geëindig het?

• Ervaar jy ook soms ‘n vae en vreemde verlange sonder naam, na ‘n mens of ‘n plek of iets anders? Dalk ‘n mens wat nie tasbaar met jou teenwoordig is nie?

• Watter snellers laat maklik jou trane vloei?

• Watter metodes gebruik jy as die verlange te veel raak?

• Het jy al ‘n venster op jou siel oopgemaak na iemand anders?

• Het jy ‘n kosbare geskenk wat jou tasbaar nader aan ‘n persoon laat voel? Watter geskenke het jy al aan jou geliefdes gegee?

Nog ‘n Koos du Plessis liedjie wat die verlange goed uitdruk:

Vermiste mense

Jou naam kom nooit na vore

nie in grou geregskantore,

nie in lêers oor verhore nie

jou diepste, verste spore loop ook dood

Ek kan dit nie verduur nie,

daar's geen saak en geen dossier nie

nie 'n deur wat nog skarnier nie

en die wete jy's nie hier nie word soos lood

Ek bly op soek na lank vermiste mense

maar almal bly my oninhaalbaar voor

die jare skif tot newels voor die lense

en die hart verloor maar mettertyd die spoor

en die hart verloor maar mettertyd die spoor

Die stad bars uit sy nate en die rustelose strate sonder jou is leeg verlate

en ek weet in watter mate ek jou mis

ons praat soms soos tevore en 'n droom word weer gebore

maar 'n wêreld lê verlore in die leegheid van die woorde wat daar is

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense

wat om my is, maar onbereikbaar ver

wat langsaam uitgekring het oor my grense

nog lokkend, maar afsydig, soos 'n ster

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense

Wat om my is, maar onbereikbaar ver

Wat langsaam uitgekring het oor my grense

Nog lokkend, maar afsydig, soos 'n ster

Share this post

Relocation

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.