Ek hoor nou die dag twee vriendinne gesels in ‘n restaurant. Die een vertel van die kleinkind wat deur ‘n gogga gebyt is en baie siek geword het. “Ons ken mos nie al die vreemde goggas in Australië nie. Hulle is baie giftig en mens sukkel om die dokter te sien. Ek is so bekommerd. Nou probeer ek op Whatsapp uitvind hoe dit gaan, maar ek moet wag tot hulle wakker is. Dis so gesukkel met die tyd ding ook nog.”
Hierdie gesprek laat my dink aan Dana Snyman se artikel van 22 April 2023. Hy gooi hy ‘n wye net van dinge in ons land wat skeefloop, wat ons dalk reeds gewoond geraak het, die Suid-Afrikaanse kwessies wat mense wegdryf: R50 vir twee avokado’s by Woolies, glasstukke by die robotte, slaggate in die strate en slaggate in mense se harte. Wat hy ook moes byvoeg is die hartseer van ouers wie se kinders geëmigreer het.
Oor die afgelope dekade het groot strome binnelanders na óf Suid-Afrikaanse kusgebiede “semigreer” óf besluit om die land permanent te verlaat. Met emigrasie is dit dikwels jongmense of jong gesinne – altyd iemand se seun of dogter, asook die kosbare kleinkinders.
Ek was altyd deel van die groep wie se kinders in SA bly. Maar nou emigreer my dogter! Nou is ek deel van die groep wie se kinders daar ver bly.
My dogter het opgewonde kom vertel van die wonderlike geleentheid om ‘n nuwe, beter lewe te begin in ‘n ander land. Ek het hard probeer om haar entoesiasme te deel, maar in my binneste was daar sóveel vrae wat kom nes skrop het.
Ek bel dadelik my vriendin, wat al lank deel is van dié eksklusiewe klub.
“Women are such a source of strength to each other. We nurture one another. And we need to have unpressured space in which we can do the special kind of talk that women do when they're with other women. It's a very healing experience.” – Gale Berkowitz.
Dis waarom ek my vriendin bel: By haar kan ek eerlik my emosies en vrese deel en staatmaak op emosionele ondersteuning, want haar simpatieke oor bied begrip en troos. Dit verlig die pyn as jy eerlik jou emosies met jou beste vriendin kan deel.
Die empatie en deernis versterk ons vriendskap. Haar vriendskap bied ‘n veilige ruimte om eerlik my emosies te kan bespreek. Ons ken mekaar al ‘n ewigheid, ons verstaan mekaar.
Ek kon my hart uithaal en voor haar neersit. Sy is my hartsvriendin.
“Ek besef ek is veronderstel bly te wees vir my kind. Sy gaan immers na ‘n plek waar die ligte altyd brand, waar hulle veilig gaan wees, waar daar beter werksgeleenthede, 'n sterker ekonomie, beter dienslewering, beter onderwys, beter álles is. Hoe kan ek níé in haar vreugde deel nie? Sy is my hart se punt en ek wil nie hê dat hulle moet gaan nie. Ons kon altyd mekaar se hoogtepunte vier. Ek is bang om alleen hier aan die suidpunt van Afrika agter te bly, met almal wat weggaan.”
Haar reaksie op my ontboeseming: “As jy so hartseer en so ‘n warboel van emosies ervaar, hoe voel jou kind dan? Jou dogter twyfel dalk baie, alleen en bang oor hierdie reuse besluit. Hoe los mens alles wat aan jou bekend is agter, kan jy haar emosies indink, dat sy dalk ook bang is onseker oor wat vir hulle voorlê; nie net vir haarself nie, maar ook vir haar hele gesin. Sê nou maar haar kinders pas nie aan nie? Wat as haar man ongelukkig is by sy werk? Dit het ook ‘n enorme finansiële impak op die huishouding. Sy laat soveel kosbaarhede agter.”
Dis algemeen bekend dat vroue baie lekker saamkuier, spesiale vriendskappe vorm met ander vroue, en dat vroue maklik kwyn as hulle goeie vriendskappe ontbeer. ‘n Baanbreker studie rakende vriendskap tussen vroue toon dat hierdie vriendskappe ‘n baie spesiale rol in ons lewens het. Vriendskappe vorm wíé ons is, asook wíé ons gaan word.
Gale Berkowitz skryf ook: “They shape who we are and who we are yet to be. They soothe our tumultuous inner world, fill the emotional gaps in our marriage, and help us remember who we really are. By the way, they may do even more.”
Navorsing toon dat gereelde interaksie met vriendinne die hormone serotonien en oksitosien vrystel. Die neuro-oordragstof serotonien is die “goedvoel“ hormoon, terwyl oksitosien geassosieer word met gevoelens van nabyheid. Dit help met die regulering van ons gemoedstoestand, gedrag en gepaardgaande sosiale interaksie. So maak dit ook korte mette met gevoelens van isolasie en eensaamheid.
Nabye vriendskappe vorm vroue se identiteit, kalmeer innerlike onstuimigheid en help behoeftes vervul wat nie deur die huweliksverhouding bevredig word nie. Dit gee aan vroue ook ‘n meer outentieke ervaring van die lewe.
Die oksitosien wat vrygestel word, laat haar fokus op die versorging van haar kinders en die vorming van bande met ander vroue. Daardie self-versterkende gedrag het ‘n kalmerende effek op haar, wat deels help verklaar waarom vroue langer as mans leef. Laer stres lei tot laer bloeddruk, hartklop en cholesterolvlakke.
‘n Aantal naby-vriendinne kan lei tot groter lewensvreugde en minder fisieke kwale soos vroue ouer word.
Vriendskappe word gevorm in verskillende fases van ons lewens. Sommige kom reeds van skool- of universiteits dae saam. Bande vorm dikwels rondom gedeelde belange, soos die kinders se sport, ‘n boekklub, kunsklub, of op die gholfbaan. Met die gedeelde hartseer van emigrasie van geliefdes, behoort ons weer aan ‘n unieke klub!
Vriendskap is bepaald een van ons mees betekenisvolle verhoudings. Ook geen wonder dat Stephan Bouwer filosofies in Afrikaans daaroor skryf, en Laurika Rauch so mooi daaroor sing:
“Die mense wat ek lief het, kom groei op my soos mos.
En loop ek deur die wêreld,
Beskut teen die koue,
Ek met my menskombersie”.
Dit laat my weereens besef hoe kosbaar ons vriendskappe is, en hoe waar die ou filosowe se teorieë oor vriendskappe is. Plato, byvoorbeeld, het vriendskap as ‘n vorm van liefde gesien wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van wysheid en deug. Hy het geglo dat mense met ‘n gedeelde belang mekaar se welsyn op die hart dra. Dit behels ‘n bepaalde vlak van intimiteit wat ons as mense vorm. Hy het verder geglo dat ware vriende mens kan help om die beste weergawe van jouself te wees.
Epicurus het gereken dat die maak van vriende gedurende mens se lewe een van die belangrikste maniere is om voortdurende geluk te verseker: “Danksy vriende lag ons ‘n bietjie harder, huil ons ‘n bietjie minder en leer ons so baie van ons self”. Beide Plato en Epicurus het dus saamgestem dat vriendskap een van die mees betekenisvolle verhoudings is.
My vriendin, omdat sy al in daardie skoene geloop het, het geduldig en aktief geluister. Sy was teenwoordig. Sy het emosionele ondersteuning gegee, geluister na my bekommernisse, vrese en emosies. Dit het my gehelp om die verandering beter te hanteer en gemoedsrus te kry.
Met die emigrasie van geliefdes besef ons weer hoe kosbaar vriendinne vir ons is.
Koester daarom jou vriendskappe en wees empaties...
My vriendin was die een wat die geskenkies bring die oggend voor die groot groet op die lughawe. Die een is vir my dogter Soane, en sy skryf dat sy die kristal in haar dak-venster langs die Hollandse kant hang. As die son daarop glinster moet sy die Afrika-son onthou. Vir my gee sy ook een wat ek in die kombuis-venster moet hang.
“Die briefie moet jy eers lees as jy terug is van die lughawe,” waarsku sy.
Met dik gehuilde oë lees ek die briefie: “But kids don't stay with you if you do it right. It's the one job where, the better you are, the more surely you won't be needed in the long run.” – Barbara Kingsolver, Pigs in Heaven