2 Julie 2023
’n Suster in Pole en ’n broer in Nederland, deesdae is so iets nie meer snaaks nie. Maar, hoe keer ’n mens dat afstand gesinsbande laat verbrokkel? Dr. Sulette Ferreira gee raad.
Luidrugtige gesinsbyeenkomste het gedempte affêres geword. Die jolige jongspan en hul ouers is nie meer op eie bodem nie: Jou broer en sy gesin sit nou in Londen, jou suster in Dubai, en al wat die drade aanmekaar hou, is om mekaar nou en dan te FaceTime.
Dit is vanselfsprekend dat emigrasie ’n onherroeplike invloed op gesinsdinamika het met bande tussen ouers en kinders wat oor lang afstande dunner gerek word.
Navorsing oor die uitkringeffek van hierdie verskynsel neem trouens toe, maar die uitwerking wat die emigrasie van sibbes op mekaar het, geniet minder aandag.
In my praktyk ervaar ek al hoe meer vrae en gesprekke daaroor.
Soos elkeen met broers en susters weet, is sibbeverhoudings ingewikkelde sake wat van die gesinsdinamika afhang. Elke gesin is uniek.
Jy bring omtrent een derde van jou lewe saam met jou sibbes deurbring.
Vir ’n gesonde sibbeverhouding hou emigrasie dus ’n wesenlike verandering in omdat die aard van een van ’n mens se langste en nouste verhoudings fundamenteel verander.
Boonop het mense deesdae selde meer as een of twee sibbes, dus is die verhouding meer intiem.
Niemand beïnvloed ons so intens soos ons broers en susters nie – nie ons ouers nie, nie ons kinders nie, en ook nie ons vriende nie.
Vanaf geboorte deel ons as broers en susters ’n gemeenskaplike geskiedenis en ’n toekoms. En dan emigreer hierdie spesiale persoon . . .
Juis hierom is die uitwerking van ’n sibbe se besluit om te emigreer so hewig.
Die oorspronklike gesinsdinamika verander en moet op ’n heel nuwe wyse herskep word. Hierdie radikale verandering skep die ideale omstandighede vir ’n warboel gemengde emosies wat elke rolspeler in hierdie verhouding anders beïnvloed.
Vanweë die onderlinge afhanklikheid tussen gesinslede kan die besluit van een sibbe om te emigreer ingrypende gevolge vir die gesinsdinamika inhou.
Die ouer, die sibbe wat bly en die sibbe wat emigreer, word uniek geraak.
Die sibbe wat emigreer, ervaar kommer én opgewondenheid oor wat die toekoms inhou.
Tesame met die talle veranderings en uitdagings van emigrasie, kan hulle verskeur voel tussen die skep van ’n nuwe lewe en om betrokke te bly by die gesin van herkoms – ’n toestand van onsekerheid.
Hulle ervaar veral skuldgevoelens teenoor die gesinslede wat agtergelaat word én hulle ervaar druk om ’n sukses te maak van hul nuwe omstandighede.
Die ouer ervaar hartseer oor die verlies van die dag-tot-dag wisselwerking en die fisiese teenwoordigheid van die kind.
Die ouer is egter ook trots op die geleenthede wat die kind aangryp, op die kind se prestasies en die strewe na ’n moontlik beter toekoms.
Die sibbe wat agterbly ervaar ook gemengde gevoelens soos verlange en magteloosheid – hulle kan dalk selfs voel dat hulle in die steek gelaat is. Hulle kan aanvanklik jaloers voel as hulle hoor hoe lekker en veilig die lewe daar ver is.
Andersyds kan hulle ook bewondering vir die emigrerende sibbe hê want dit kos immers moed om ’n nuwe lewe in die vreemde te begin.
Dit bewys ook vir die sibbe wat agterbly dat dit moontlik is om suksesvol te emigreer, sou hulle ook die proses aanpak.
Die sibbes wat hier bly is dikwels betrokke by die versorging van die ouers en dit veroorsaak ambivalente gevoelens vir almal. Veral wanneer ’n ouer in die hospitaal beland en meer fisiese versorging nodig het, óf wanneer belangrike besluite geneem moet word, is die fisiese afwesigheid van broers en susters ’n gemis.
“Wanneer my broer-hulle kom kuier word hulle soos eregaste behandel,” is ’n ervaring wat talle sibbes beskryf rakende die besoeke van sibbes wat geëmigreer het. Ouers moet bedag wees daarop om die balans te bewaar.
Die kringloop van emosionele belewenisse het natuurlik ’n onderlinge wisselwerking. Die ouers se emosies soos byvoorbeeld hartseer beïnvloed beide die emigrante en die agterblywende sibbes, en die emosies van al die sibbes beïnvloed hul ouers en ook mekaar.
Om die verandering in gesinstruktuur wat emigrasie teweegbring, te verwerk, moet hierdie emosies erken en die nuwe situasie aanvaar word.
Emigrasie vereis ’n nuwe perspektief van al die gesinslede. Die band tussen sibbes kan oor ’n groot afstand behoue bly en selfs groei wanneer sibbes aanhou deel wat in hul lewens gebeur, mekaar bemoedig en prestasies vier.
Gereelde en konsekwente kommunikasie vestig ’n roetine wat sibbes se emosionele verbinding help handhaaf.
Hiervoor hou die virtuele wêreld baie moontlikhede in, soos om gelyktydig ’n fliek te kyk en dit daarna te bespreek, aanlyn speletjies te speel of om aan gemeenskaplike stokperdjies deel te neem. Daar is niks soos ’n gereelde gesinsvasvra om gesonde kompetisie onder sibbes aan te moedig en ’n lekkerlag-geleentheid te skep nie. Sommige sibbe reis saam, hou saam vakansie, gesels virtueel of deel in mekaar se lewens deur WhatsApp-groepe.
Hoe ’n mens dit ook al doen, die belangrikste is dat doelbewuste kommunikasie en tyd vir mekaar ’n prioriteit moet word. Moenie toelaat dat geografiese afstand en verskillende tydsones ’n verskoning word om mekaar af te skeep nie.
’n Sibbe wat in Suid-Afrika bly, som haar ervaring so op:
“Ek kan my besluit hoekom ek hier bly rêrig regverdig. Ja. Niemand gaan my anders oorreed nie. Ek lees dieselfde goed as julle en sien dieselfde goed – ek is nie blind daarvoor nie, ek’s nie naïef nie. Maar ek is happy – ek is rêrig gelukkig hier en ek gun dit vir hulle.
“Mens verstaan nie altyd hoe jy in een huis kan saam grootword en dieselfde gene en bloedlyne en ma en pa en vakansies en herinneringe en goed hê wat jou maak tiek, en dan kan hulle net so gelukkig wees op ’n ander plek en net nou en dan hier kom reset nie.
“Jy weet dit, jy verstaan dit nie, maar jy hoef dit nie te verstaan nie. Jy hoop maar net hulle is rêrig ook gelukkig, het vrede met waar hulle is.”