Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Relocation

5 min

Hou ’n virtuele ooievaarstee vir jou swanger dogter oorsee

Tuesday, November 5, 2024

12 Mei 2024

Het jy al ooit ’n lewensveranderende situasie ervaar wat geheel en al bo jou vuurmaakplek is? Dan sal jy dalk begrip hê vir die emosies van transnasionale gesinne. Hulle ervaar emigrasie nie net as ’n fisieke hervestiging nie, maar as ’n emosionele reis wat hul identiteit en gesinsverhoudings herbepaal.

Aan die kern van elke emigrasie lê ’n magdom teenstrydige emosies. Hartseer vermeng met vreugde, opwinding gekleur met onsekerheid, en ’n dankbaarheid wat deur besorgdheid oorskadu word.

Aan die kern van elke emigrasie lê ’n magdom teenstrydige emosies. Hartseer vermeng met vreugde, opwinding gekleur met onsekerheid, en ’n dankbaarheid wat deur besorgdheid oorskadu word. Met die ontwrigting van hul daaglikse lewens bevind hierdie gesinne hulself in ’n “tussen-in”-fase van onsekerheid.

Dit is ’n ongekarteerde ruimte, sonder ’n globale posisioneringstelsel (GPS) as gids. Dit raak almal in die betrokke gesinne, van die emigrant tot diegene wat agterbly en dit kring selfs wyer uit. Hierdie ontworteling laat ’n spoor van verlange agter.

Mylpale soos verjaarsdae, gradeplegtighede, doopseremonies, verlowings, troues en begrafnisse, wat gewoonlik met rituele gevier word, verkry ’n melankoliese ondertoon, ’n soort heimwee, aangesien die emigrant en hul geliefdes selde bymekaar is om hierdie mylpale te vier.

Rituele as rigtingwysers

Rituele het oor die eeue heen ontwikkel as tydlose praktyke wat rigting gee aan ons bestaan. Dit speel ’n belangrike rol in ons lewens, en dien as beklemtoning van gedeelde ervarings wat ons in die samelewing koester – vanaf die teerheid van geboorte tot die finaliteit van die dood en al die ander fokuspunte tussenin.

’n Begrafnis is ’n erkende ritueel en dien as ’n raamwerk vir die hantering van afsterwe. Dit word algemeen aanvaar dat die emosies van rou uitgeleef word as ’n deel van die helingsproses. Die doodsertifikaat en die lees van ’n testament bied ’n konkrete finaliteit. Hierdie bekende metafore en simbole bied ’n universele taal waar woorde soms tekort skiet om hartseer te verwoord.

In die konteks van emigrasie ontbreek hierdie soort raamwerk en is daar veral ’n leemte aan erkende afskeidsrituele.

’n Voorbeeld is die afskeid by die lughawe. Dit is ’n onbekende terrein vir almal betrokke, die emigrant, die gesin wat agterbly en die groter gemeenskap. Die groet by die lughawe is die eerste tasbare afskeid vir transnasionale gesinne in die emigrasie-proses. Só beskryf ’n ouer haar ervaring op die lughawe: “Daardie opwinding wanneer hulle arriveer, is onbeskryflik, maar heeltyd weet jy dat jy weer oor twee of drie weke daar gaan staan met die teenoorgestelde gevoelens. Daai laaste voel van die hande, laaste drukkie, reuk van jou kind se hare voor hulle begin loop, is aaklig. Jy sien niemand anders behalwe hulle nie en die trane loop onbeheers. Jy staan en waai totdat jy hulle nie meer kan sien nie, dan draai jy verwese om en stap terug kar toe om terug te gaan na ’n huis vol herinneringe, maar ook dolleeg en stil. Jy weet nie wanneer jy hulle weer gaan sien nie.”

Dié tipe verlies word onuitgeklaarde verlies genoem. Weens die onsekerheid en dubbelsinnigheid van die aanhoudende verlies word dit moeilik verwerk deur ouers en geliefdes wat agterbly. Elke afskeid ná ’n kuier is dan telkens weer ’n verlies. Die verlies van “wat kon gewees het”, vertraag die rouproses.

Ouers, en sibbe wat agtergelaat is, vind min begrip by ander; hulle geliefde het immers net geëmigreer – hy leef mos nog – waarom so hartseer? Julle gesels mos oor die internet? Die onsekerheid van die samelewing oor hoe om emosies rakende emigrasie te verwoord – gelukwense, simpatie of eenvoudig net stilte – dui op die behoefte aan rituele.

’n Eenvoudige groet by die lughawe wanneer ’n geliefde vertrek of aankom, kan ’n intieme en betekenisvolle manier wees om afskeid te neem of verwelkomingswense oor te dra.

Sommige gesinne omskep hierdie oomblik in iets hoopvol, iets wat minder voel soos ’n einde: “Ek probeer om nie daaraan te dink as ’n afskeid nie, maar bloot tot ons mekaar weer sien. Steeds raak ek hartseer, want ek moet net geduldig wees. Ons sal mekaar weer sien.”

Elke gesin ontwikkel uiteindelik sy eie manier om die afskeid by die lughawe te hanteer.

’n Virtuele ooievaarstee

Die viering van ’n nuwe aankomeling in ’n ander deel van die wêreld bied ’n soortgelyke uitdaging. Met geboortes word rituele benut om hierdie mylpaal te bevestig en te vier. Tradisioneel het die ooievaarstee gedien as ’n oorgangsritueel by geboortes, ’n viering van nuwe lewe wat ontstaan het uit die Amerikaanse koloniale era se “geboortepartytjies”.

Met sy diepgewortelde simboliek van geboorte en sorg, oorskry die mite van die ooievaar die grense van kultuur en generasies. Die vertelling dat die ooievaar babas aflewer, is veral gewild in Europese volksverhale. Dit verwoord die universele begeerte na kinders en die vreugdevolle afwagting van nuwe lewe.

Die ooievaar word gesien as ’n simbool van moederlike toewyding en ouerlike sorg. Dit dui op die belang van ouerskapvaardighede en gedeelde verantwoordelikhede tussen ouers.

Boonop eggo die ooievaarpaar se lojale terugkeer na dieselfde nesplekke elke jaar die ritmes van kontinuïteit, wat die idee van nuwe begin en die blywende kringloop van die lewe beklemtoon.

Net soos die ooievaar temas van vrugbaarheid, oorgang en gesinsbande aksentueer, so dien die gebruik van die ooievaarstee as ’n viering van nuwe begin en hoop by die geboorte van ’n kind. ’n Vroedvrou en naby vroulike familie en vriende het by die nuwe ma gebly en hulp verleen totdat die baba gebore is. Lighartige gesprekke het die verwagtende moeder bemoedig, en raad vir die hantering van die nuwe baba is uitgeruil. Dit was ook ’n gulde geleentheid om haar te seën met noodsaaklike items vir die oorgang na ouerskap.

Vir emigrante-kinders in die buiteland word hierdie tradisie bemoeilik deur die geografiese afstand. Gelukkig verryk inligtingskommunikasietegnologie die landskap van transnasionale verhoudings. Virtuele verbindings deur selfone, e-pos, sosiale netwerke en video-oproepe dien as deurslaggewend belangrike lewenslyne om die fisieke afstand tussen mense te oorbrug, wat familiebande help versterk.

Die ouer van ’n emigrante-dogter wat haar eersteling verwag en self haar ooievaarstee gereël het, vertel: “So sit ons vier in ’n ry op ’n Saterdagmiddag voor die rekenaar. Amper soos met ’n rugbywedstryd, almal is daar, maar jy is by die huis. Dit is drie-uur ons tyd, vier-uur hulle tyd. Ons teekoppies en koeksisters en melktert is uitgepak. Ons ‘kuier’ saam, maak geskenke oop en gee raad oor die nuwe baba – dis my eerste kleinkind. Sou graag net aan een van die kombersies wou vat of die babapoeier wou ruik en veral my dogter styf vasgehou het . . . maar ons was aanlyn.”

’n Virtuele ooievaarstee is ’n moderne aanpassing van ’n geykte ritueel. Dit stel geliefdes wat oor die wêreld versprei is in staat om geografiese grense te oorbrug. Hierdie unieke manier om nuwe lewe te vier bevestig die veerkragtigheid en aanpassingsvermoë van transnasionale geliefdes.

Laat belangrike oomblikke steeds tel

In ’n wêreld waar emigrasie verandering in nabye verhoudinge teweeg bring, is die behoefte aan die viering van verbintenis in gesinne nog nooit so belangrik nie. Dit is inherent aan ons menswees om nie alleen te wees nie, veral nie met die ervaring van lewensveranderende gebeure nie.

Ons het die inherente behoefte om die kosbare oomblikke in ons lewens te deel met diegene wat vir ons die meeste saak maak. In ’n snelveranderende digitale wêreld skep ons daarom kreatief nuwe rituele om die essensie van die gesin te bevestig.

Rituele soos die virtuele ooievaars¬tee illustreer ons vermoë om te verander en sinvol aan te pas. Dit bevorder ’n gevoel van eenheid en bevestig die blywende bande wat ons oor vastelande heen saambind. Dit herinner ons daaraan dat ons deel is van iets groter as onsself.

Share this post

Relocation

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.