Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Relocation

6 min

Kersfees in die vreemde: 'n Gids tot transnasionale besoeke vir ouers

Tuesday, November 5, 2024

As jy van die vliegtuig afklim groet die feestyd jou en wek ’n mengsel van vreugde en nostalgie. Jou hart loop oor van afwagting vir die langverwagte kuier by jou kinders en kleinkinders wat al lank in ’n verre land woon.

Die werklikheid van ouers met volwasse kinders in die buiteland, lei tot die transnasionale gesinsbesoek – ‘n pelgrimstog oor grense en kulture heen.

Weeklikse WhatsApp oproepe is maar ‘n skrale troos vir die behoefte om jou kinders weer in vlees en bloed te sien. Kersfees is tradisioneel die tyd vir gesinne om saam te kuier, ook as jou kinders oorsee woon en werk. Só ‘n besoek bied 'n unieke geleentheid om emosionele bande te versterk wat kon verswak het weens die skeiding oor tyd en afstand.

As 'n emigrasieterapeut deel ouers dikwels met my wat hulle ervaar met sulke besoeke aan kinders in die buiteland. Dis duidelik dat nadenke en beplanning oor die doel van jou kuier sal help om jou reis so bevredigend as moontlik te maak.

Hier is agt riglyne met praktiese en proaktiewe leiding daarvoor.

1. Begin met "Waarom die kuier?"

Dis tog duidelik: Jy en jou kinders is lief vir mekaar en verlang daarna om herenig te word. Jou gevoel van ouerlike verantwoordelikheid verdwyn nie, al het jou kinders die huis verlaat en oorsee vertrek. Verder deel jy ook graag in al hulle mylpale – om prestasies te vier, vertroosting vir verliese te bied en om die tasbare ondersteuning te bied wat slegs fisiese teenwoordigheid moontlik maak.

Jy wil ook deel wees van die ontvouende verhaal – om te deel in die vakansie-warmte, om by te dra tot die vreugde en maak van nuwe herinnerings – om die sprankel in jou geliefdes se oë eerstehands te kan aanskou.

Wat jy kan doen

Dink na oor die belangrikste aspekte van jou besoek en skryf dit neer. Wil jy in hul vreugde deel, of gaan dit oor iets meer spesifiek, soos om tradisie te handhaaf, om jou kinders se nuwe lewe eerstehands te aanskou of om te verseker dat jou band sterk bly ten spyte van geografiese afstand?

2. Beplan doelgerig, maar laat ruimte vir die onverwagte

Baie gesinne beplan samekomste rondom die Kerstyd - 'n liefdestaak. Ouers en kinders bied wedersydse ondersteuning om te verseker dat die gesinskring weer kan heel na ‘n lang skeiding.

Wat jy kan doen

Begin 'n paar maande vooruit reeds met die aansoek vir paspoort en visums – die ratte van burokrasie draai stadig.

Bespreek lank vooruit jou vlugte – dit kan goedkoper wees.

Hou in gedagte dat jou kinders steeds hul eie lewens het - neem hulle skedules ook in ag.

Bou speling in vir verrassings en laat ruimte vir spontaneïteit.

Natuurlik kan selfs die mees noukeurige planne die slagoffer word van die onvoorspelbare, met die potensiaal vir gekanselleerde vlugte of gesondheidskwessies wat planne in die wiele ry.

Wat jy kan doen

Erken dat sommige faktore buite jou beheer is. Maak voorsiening deur bv. buigsaamheid om vlugte te kan skuif.

Laat ruimte vir teleurstelling, maar verskuif dan jou fokus na wat gedoen kan word.

Gebruik die situasie as 'n geleentheid om veerkragtigheid en buigsaamheid aan jou kinders en kleinkinders te modelleer.

3. Hou die kommunikasie lewendig

Put soveel moontlik uit die kuier deur jou vakansie proaktief te beplan, asook om om onvoorsiene gebeure te bestuur en planne betyds te verander. Dit is nodig dat beide jy en jou kinders aktief betrokke is by die beplanningsproses. Hou dus die kommunikasie lewendig.

Indien julle reeds jare deur emigrasie van mekaar geskei is, sal julle mekaar se taal en uitdrukking moet leer ken om weer soos ou bekendes te kan gesels. Wees voorbereid om gespreksritmes te herontdek en stories te deel wat die tyd wat julle uitmekaar was gevorm het

Wat jy kan doen

Bespreek uitdruklik met jou kinders wat jy hoop om tydens jou besoek te bereik.

Maak 'n lys van wat jy oor jou kinders se lewens wil leer en in watter aktiwiteite jy wil deel.

4. Opofferings en die ouer reisiger

Die hoë koste van interkontinentale vlugte kan ‘n struikelblok wees om jou kinders meer gereeld te sien, veral gedurende die feesseisoen, wat weereens die behoefte beklemtoon om vroegtydig te beplan en kaartjies vooraf te bespreek.

Voeg daarby reisversekering, wat jou help beskerm teen die onverwagte, en gesondheids voorsorgmaatreëls vir die reis-slim ouer reisiger.

Lang reise per vliegtuig hou bepaalde uitdagings vir ouer reisigers in, veral om ure lank in 'n beknopte sitplek stil te moet sit. Groot en besige internasionale lughawens en vreemde tale kan ‘n verskrikking wees. Die stres van reis eis gewoonlik sy tol op jou energie en welstand.

Hierdie kostes weeg egter nie op teen die waarde daarvan om ‘n vir ‘n week of drie weer in die bekende nabyheid van jou kinders en hulle gesinne te wees nie. Sien die opofferings as beleggings in die gesin se emosionele reserwe.

Wat jy kan doen

Wees eerlik en realisties oor jou fisiese vermoëns – gesondheidsprobleme kan lei tot die uitstel van jou vlug, of kansellasie.

Beplan vir ‘n stadiger pas as jy ouer is. Indien moontlik, beplan vir direkte vlugte om reistyd te verminder, of verseker dat daar genoeg oorstaantyd is om tussen vlugte te rus.

Kies gangsitplekke vir makliker toegang tot die toilet en om jou bene te rek. As jy kan, oorweeg dit om na besigheidsklas op te gradeer.

Beplan vir 'n rusdag om te herstel na jou aankoms.

Maak gebruik van elke geleentheid – iewers in die toekoms sal jy dalk nie meer kan reis nie.

5. Realistiese verwagtinge

Die afwagting van 'n reünie met jou ver kinders bring 'n magdom verwagtinge en emosies mee. Ons sien uit na ‘n vreugdevolle feestyd, maar na 'n lang skeiding is daar veranderde gesinsrolle en identiteite wat ‘n demper kan plaas. As ouer moet jy nou 'n wêreld betree waar jou rol en teenwoordigheid bes moontlik 'n nuwe betekenis gekry het.

Balanseer jou verwagtinge met jou kinders se werklikheid. In jou betrokkenheid moet jy heelwat ruimte laat vir hul gesin se gevestigde roetines. Maak daarom jou kind die fokus, nie jouself nie. Koester kosbare oomblikke en skep mooi herinneringe, terwyl jy hulle grense respekteer.

Wat jy kan doen

Maak jou verwagtinge vir jouself en aan hulle duidelik.

Stel jou kinders se behoeftes eerste – hulle lewens is nie op “pause” net omdat jy daar kuier nie.

Dink realisties oor hul tyd en energie wanneer aktiwiteite en uitstappies beplan word.

6. Wees oop vir nuwe kulture en ervarings

Kulturele akklimatisering is nog 'n belangrike oorweging. Jou kinders en hulle gesin het reeds aangepas by die norme van hulle nuwe samelewing – ook aspekte wat vir jou vreemd mag voorkom. Probeer dit met nuuskierigheid en openheid benader.

Laat jou kinders se begeleiding deur hul nuwe kultuur vir jou 'n geskenk wees, wat aan jou 'n venster na hul nuutgevonde onafhanklikheid oopmaak. Laat jouself toe om trots te voel op wat hulle bereik het en sê dit ook vir hulle.

Maak daarom vrede met die onbekende. Belê in julle gedeelde toekoms. Gee die ruimte dat die bekende tradisies van Kerstyd in hulle kinderjare nou transformeer na hulle nuwe werklikheid.

Wat jy kan doen

Hou 'n oop gemoed oor nuwe tradisies.

Vermy ‘n vinnige oordeel oor wat vir jou nuut en anders mag lyk.

Onthou dat ’n nuwe kultuur voortbou op jou kinders se gesonde wortel – dit word nie uitgevee nie.

7. Oorweeg jou nalatenskap

Oorsese reise gebeur dalk te min vir jou behoefte. Jou teenwoordigheid moet dus die grootste moontlike positiewe impak hê om 'n blywende effek te skep, veral as jy kleinkinders het wat jy selde sien. Hierdie kosbare mensies is immers 'n groot deel van die rede vir jou besoek.

Maak daarom seker dat jou teenwoordigheid 'n bron van vertroosting, stabiliteit en vreugde is. Vind maniere om in te pas, ‘n positiewe rol te speel en skep herinneringe wat in foto’s verewig kan word. Jy moet ook reeds jou vertrek beplan – watter indrukke wil jy versterk, en watter herinneringe wil jy agterlaat.

Wat jy kan doen

Oorweeg dit om dinge te doen soos om 'n nuwe tradisie te begin, familiestories oor te dra, of om saam iets te skep wat vir die komende jare gekoester kan word.

Wees eerlik met jouself, leer jouself ken en versag doelbewus jou gewone negatiewe gedrag.

Stel vroegtydig 'n lys van jou sterkpunte en swakpunte op en oefen om jou sterkpunte te versterk en jou swakpunte te versag.

8. Eindig met ‘n blik op die toekoms

Deur jou kinders te besoek, is die ware afstand – die emosionele gaping – oorbrug, waardeur die krag en veerkragtigheid van familiebande herbevestig is.

Beplan dus nou reeds die volgende familie-reünie, want die ware familiereis eindig nooit regtig nie – dit skep net deurentyd nuwe verhale van hoop. Ongeag hoe ver julle van mekaar af woon en hoeveel grense julle moet oorsteek, bly die gesinsband onherroeplik sterk.

Bevestig daardeur dat die familie-reis oneindig is. Met elke langverwagte hereniging word die fisiese gaping gesluit en word die emosionele band sterker, as bevestiging dat jou gesin 'n seker toevlugsoord bly, ongeag die afstand.

Share this post

Relocation

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.