17 Desember 2023
Die feestelike atmosfeer begroet jou die oomblik as jy van die vliegtuig af stap. Dit wek 'n mengsel van vreugde en nostalgie. Jou hart loop oor van afwagting vir die langverwagte kuier by jou kinders en kleinkinders wat nou ‘n vreemde land hul tuiste noem...
Die neiging vir jong gesinne om te emigreer op soek na beter geleenthede laat ‘n groot gaping vir ouer-wordende ouers tuis. Kersfees is tradisioneel ‘n tyd vir gesinne om saam te wees. Dis dan ook 'n gunsteling tyd om familie in die buiteland te besoek en weer die bande te versterk.
Met ons reise probeer ons die emosionele afstand oorbrug, wat dikwels ‘n bittersoet ervaring kan wees. Ons ervaar diepgaande vreugde met die gedeelde feesseisoen, maar ook die kompleksiteite van veranderde familie-rolle.
As 'n emigrasie-terapeut deel ouers dikwels hulle ervarings van besoeke aan hul kinders in die buiteland met my. Die verhale omvat 'n spektrum van menslike emosie wat ons reg moet benader om aan al die verwagtinge te voldoen. Hier is ‘n paar wenke.
Vra jouself eerstens af: Waarom wil ek gaan kuier?
Jy en jou kinders is lief vir mekaar is, en wil ‘n slag weer in mekaar se teenwoordigheid wees en drukkies uitdeel. Maar dink tog dieper.
Jou teenwoordigheid as ouer verbind die hede met die verlede, met die belofte van 'n toekoms vol herinneringe. Die kuier bied die geleentheid om 'n aktiewe deelnemer te wees eerder as 'n blote toeskouer daar waar jou kinders se verhale afspeel.
Sien dit dus as veel meer as die fisiese weersien; dis eintlik 'n belegging in ons gesamentlike verhale soos dit ontvou. Wat wil ons hê moet ons kinders en kleinkinders van hierdie kuier onthou?
Put soveel moontlik uit die kuier deur jou vakansie proaktief te beplan. Vir talle gesinne is die beplanning vir hul samekomste rondom die Kerstyd ‘n liefdestaak. Jy en jou kinders moet dus aktief betrokke wees in die beplanningsproses. Hou die kommunikasie lewendig.
Bespreek lank vooruit jou vlugte – dit kan goedkoper wees. Onthou dat jou kinders met hul eie lewens sal voortgaan en neem dus hulle skedules ook in ag. Bou speling in vir verrassings en laat ruimte vir spontaneïteit.
Die mees noukeurige planne kan die slagoffer word van die onvoorspelbare, met die potensiaal vir gekanselleerde vlugte of gesondheidskwessies wat planne in die wiele kan ry. Alternatiewe planne kan help om veerkragtig¬heid en buigsaamheid aan jou kinders en kleinkinders te modelleer.
Die hoë koste van interkontinentale vlugte kan ‘n struikelblok wees om jou kinders meer gereeld te sien, veral gedurende die feesseisoen, wat weereens die behoefte beklemtoon om vroegtydig te beplan en kaartjies vooraf te bespreek.
Voeg daarby reisversekering, wat jou help beskerm teen die onverwagte, en gesondheids voorsorgmaatreëls vir die reis-slim ouer reisiger.
Lang reise per vliegtuig hou bepaalde uitdagings vir ouer reisigers in, veral om ure lank in 'n beknopte sitplek stil te moet sit. Groot en besige internasionale lughawens en vreemde tale is ‘n verdere uitdaging. Die stres van reis eis gewoonlik sy tol op jou energie en welstand.
Nietemin, hierdie kostes weeg egter nie op teen die waarde daarvan om ‘n vir ‘n week of drie weer in die bekende nabyheid van jou kinders en hulle gesinne te wees nie. Sien die opofferings as beleggings in die gesin se emosionele reserwe.
Elke kuier is 'n toets vir realistiese verwagtinge. Jy is nie meer die hoof van die gesin wat elke aand aan jou etenstafel sit nie; jou kinders het nou hul eie etenstafels, en hul lewens het boonop verplant na 'n ander samelewing se kultuur en gebruike.
Elke ouer is trots en liefde is vir hul kinders se prestasies en die volwasse mense wat hulle geword het. As ouers het ons rolle egter verskuif van toesighouers en gidse tot besoekers en ondersteuners.
Pas aan by die veranderde gesinsdinamika. Jy was as ouer eens die sentrale figuur in jou kind se lewe, maar jou rol het verander. Vind die sensitiewe balans tussen jou betrokkenheid en voldoende ruimte waarin hulle kan floreer.
Indien julle reeds jare deur emigrasie van mekaar geskei is, sal julle mekaar se taal en uitdrukking moet leer ken om weer soos ou bekendes te kan gesels. Wees voorbereid om gespreksritmes te herontdek en stories te deel wat die tyd wat julle uitmekaar was gevorm het.
Sit eers die klein irritasies en frustrasies opsy wat julle tyd saam kan bederf. Wees eerder dankbaar vir die tyd saam en vir die wonderlike volwasse individue wat julle kinders geword het. So kan die besoek 'n positiewe en vervullende ervaring vir almal betrokke wees en ‘n geleentheid om nuwe herinneringe te maak.
Kuiers oor landsgrense heen is skaars en kosbaar. Maak seker dat jou kuier ‘n positiewe impak en 'n blywende indruk laat, veral as jy kleinkinders het wat jy selde sien. Hierdie kosbare mensies is immers 'n groot deel van die rede vir jou besoek.
Deur elke oomblik ten volle te waardeer, sal jy nie net 'n lewende nalatenskap skep nie, maar ook 'n onuitwisbare stempel van liefde op die harte van jou geliefdes laat. Elke lag, elke drukkie, elke liefdevolle woord is van die blywende indrukke waarmee ons huis toe gaan – 'n skatkis vol kosbare herinneringe.
As ons kinders en kleinkinders terugkyk op hierdie tye, mag hulle dit onthou as 'n tyd van onverganklike liefde en vreugde, 'n getuienis van die lewende band wat ons as 'n familie bymekaar hou.
Beplan nou reeds die volgende ontmoeting, of dit nou 'n besoek in die warmte van julle huise sal wees, die gedeelde vreugde van 'n vakansiebestemming, of die eenvoudige dog diepgaande verbinding van 'n digitale gesprek.
Ten slotte: Neem slegs herinneringe, los slegs voetspore...