Augustus 2019
"Kan iemand asseblief by my ma (al in haar 80's) gaan kuier? Sy het alles wat sy nodig het, maar sy sterf van eensaamheid. Ek is haar enigste kind, maar bly duisende kilometer ver. Is daar dalk iemand in Jeffreysbaai wat by haar 'n koppie tee sal gaan drink?" - Johann Botha in Noord-Amerika (Advertensie in Rapport, 7 April 2019)
Hierna is bogenoemde pleidooi op Facebook geplaas. Dit het die sosiale media laat gons, en tot op hede was daar reeds 934 kommentare hierop.
Om watter rede het dié briefie, met sy eenvoudig maar desperate versoek, sulke opslae gemaak?
Waarskynlik omdat ons almal reeds op die een of ander manier deur die aktualiteit - en trauma - van emigrasie geraak is. Juis ook dié wat (moes) agterbly.
Ná die bestudering van ál 934 kommentare, was dit duidelik dat die reaksies op Johann se versoek ooreenstem met die bevindings van 'n ondersoek na die emosionele ervarings van Suid-Afrikaanse ouers wat agtergelaat is nadat hul volwasse kinders geëmigreer het.
'n Aansienlike aantal Suid-Afrikaners het teen die einde van 2018 in die buiteland gewoon. Met hul ouers wat hier agterbly.
Wie? Hoekom? En waarheen?
Daar is gewoonlik nie slegs een enkele motivering vir emigrasie nie; dis 'n komplekse interaksie van faktore wat daartoe lei dat 'n persoon of 'n gesin so 'n lewensveranderende besluit neem.
Ekonomiese globalisering het wêreldwyd tot gevolg dat geskoolde persone na beter beroepsmoontlikhede, vooruitsigte en besoldiging op soek is. Werkloosheid en die politieke en ekonomiese klimaat in Suid-Afrika, om nie van die benarde elektrisiteitsvoorsiening te praat nie, is beduideinde bydraende faktore tot emigrasie.
Ook die toename in geweldmisdaad speel 'n belangrike rol.
Suid-Afrikansers verkies om na die ontwikkelde industriële lande soos Groot-Brittjanje, die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland te emigreer, /afgesien van die feit dat hierdie lande historiese en kulturele ooreenkomste met Suid-Afrika toon, deel hulle ook 'n taal met ons.
Elke individuele emgirasie-situasie is uniek. Daar is wel een gemeenskaplike gewaarwording: die oorweldigende gevoel van verlies vir diegene wat emigreer; asook vir hulle, spesifiek die ouers, wat agterbly.
Dis dikwels 'n onuitgeklaarde en nimmereindigende verlies, en dit gee aanleiding tot 'n soort chroniese hartseer.
Daar is ook teenstrydige emosies: Terwyl die ouers dankbaar en verlig is dat dit goed gaan met hul kinders in die vreemde, is die gemis onlosmaaklik deel van hul nuwe werklikheid.
Sommige van die "opgebreekte" gesinne sien mekaar gereeld, tot een keer per jaar en selfs meer. Maar vanweë finansiële en ander redes is daar ook dié wat baie min, indien enige, fisiese kontak met mekaar het.
Hoe kan ek, die ouer wat agterbly, sin vind in hierdie werklikheid? Dis belangrik om te onthou dat hoewel jy op 'n unieke manier deur jou kinders se emigrasie geraak word, jy nié die enigste persoon in hierdie bootjie is nie. Dit was jou kind se keuse om te emigreer; dis nou jou besluit hoe jy hierdie nuwe situasie gaan hanteer.
Verandering in ons lewe skep uitdagings wat maklik negatiewe denke en selfs hartseer tot gevolg kan hê. Soms word daar net eenvoudig té veel tyd afgestaan aan gedagtes oor wat kon gewees het of moes gewees het. Fokus op dit wat ís, en probeer om die nuwe werklikheid te aanvaar en 'n sukses daarvan te maak. Wanneer jy dus met jou kinders kontak maak, probeer om te fokus op wat positief is, sodat hulle graag met jou in kontak wil bly. Vind meer uit oor hul nuwe wêreld om sodoende by hul lewe betrokke te bly, en sodat julle baie dinge het om oor te gesels. Talle ouers se ervaring is inderdaad dat hul kinders gelukkig en suksesvol in hul nuwe omgewing is. Hierdie wete maak dit makliker om jou eie verlies te aanvaar - want as dit goed gaan met jou kinders, gaan dit ook goed met jou.
Maak gebruik van die jongste kommunikasietegnologie. Rekenaar-gefasiliteerde kommunikasie maak onmiddellike kontak moontlik. Alle rolspelers kan aktief by mekaar se lewe betrokke bly. Maak 'n vaste afspraak met jou kind. Spreek met mekaar af om gereeld te kommunikeer, op 'n tyd wat sowel jul onderskeie tydsones as jul lewensomstandighede in ag neem. Skype en WhatsApp-oproepe stel jou in staat om op hoogte te bly van gebeure in jou kinders en kleinkinders se lewe. Hulle het steeds jou ondersteuning nodig. En hoewel jy nie fisies by hulle is nie, kan jy steeds 'n emosionele bydrae lewer. Jou aktiewe betrokkenheid by jou kinders en kleinkinders sal vir hulle 'n aanmoediging wees. Hou in gedagte dat hulle nie altyd onmiddelik kan reageer nie en moenie ontmoedig raak nie.
Om mekaar weer te sien, bly steeds 'n hoogtepunt. Indien dit enigsins finansieël moontlik is, beplan 'n besoek aan jou kind(ers). Dit sal jou waarskynlik help om die emigrasieproses te aanvaar nadat jy gesien het waar hulle woon, en weet dat dit goed gaan met hulle.
Geloof kan in dié tyd jou anker wees.
Verandering en verlies wat met emigrasie gepaard gaan, is nooit maklik nie. Nadat jou kinders verhuis het, kan jy steeds, oor kontinente heen, op 'n geestelike vlak by hulle betrokke bly. En wanneer jy vir hulle bid, kommunikeer jy tog ook met húlle ...
Ouers wil tog kinders wat vol selfvertroue is die wêreld instuur. Indien jy 'n kind in die buiteland het, beteken dit dat jy iemand grootgemaak het wat gereed was om een van die moeilikste en ingrypendste besluite denkbaar te neem, en die vermoë gehad het om dit deur te voer.
Dis dalk een van die grootste komplimente wat 'n ouer kán kry.
'n Ma skryf: "Ek sal nooit my enigste kind kwalik neem as sy eerder oorsee wil gaan woon nie. Sy het nie regtig 'n toekoms hier nie. Ek het haar in die wêreld gebring om 'n eie lewe te hê, en ek verwag nie van haar om haar veiligheid prys te gee ter wille van my nie."
Nog 'n ouer sê: "Solank my kinders net 'n goeie toekoms daar het, is ek fine. Ek sal sorg dat ek genoeg vriende het, by my kerk betrokke is en stokperdjies het. Miskien is dit maklik om te sê; dalk raak verlange daai tyd groot."