Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Relocation

10 min

My kind trek oorsee – wat nou?

Tuesday, November 5, 2024

Die Theron-familie: van links is Wessel, Celia, Ben, Annelize, Neil, Jean en Pieter. Foto: Verskaf

8 Mei 2024

Daar is bykans ’n miljoen Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, en dit lyk of al hoe minder van hulle terugkom.

In 2020 was daar 914 901 Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, met 743 807 in 2010 en 501 600 in 2000. [https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/ekonomie/breinkwyn-al-hoe-minder-saners-keer-terug-na-emigrasie-20240402]

Maar wat van die geliefdes wat agterbly? Vir hulle raak die pyn nie makliker nie.

Susilla Cronjé Louw, ’n ma van twee kinders wat na Nieu-Seeland geëmigreer het vir beter geleenthede, sê “party Sondae sit ons en droom oor hoe ons middae sou kon lyk met ons kinders hier. Ons sou kon potjie maak en braai met die kleinkinders wat buite speel. Maar ons weet hulle sal nie terugkom nie. “Ons is selfoonskerm-oumas en -oupas.”

Aanvanklik kon hulle dit glad nie aanvaar nie en is steeds “opstandig daaroor”.

Martsie Dreyer het ook twee kinders wat onderskeidelik na Amerika en Ierland geëmigreer het. Sy sê dat sy die kleinkinders meer mis, veral omdat dit moeilik is om hul aandag oor selfoonskerms te hou en ’n ordentlike verhouding te bou.

“Ek gaan voort met my lewe hier. Ek maak tuin, ek verf, ek leer nuwe stokperdjies. Ek moet lekker goed doen sodat ek lekker goed het om oor te gesels met hulle.”

Wat die kenner sê

Dr. Sulette Ferreira, ’n sosiaal-wetenskaplike navorser en emigrasieterapeut in private praktyk, sê “emigrasie ís emosioneel vir ouers wat agterbly. Die prentjie in jou kop van hoe jou lewe met jou kleinkinders sou gelyk het, verander en dit is ’n aanpassing.”

Ferreira doen juis nou verdere navorsing oor die eensaamheid van ouers wie se kinders oorsee is, asook hoe om ’n band met jou kleinkinders oorsee te bou.

“Ons noem dit ’n onafgehandelde verlies, want dit is ’n verlies wat voortduur en waaroor jy geen beheer het nie. Die kind het gekies om te gaan, jy gaan daarby aanpas, maar elke keer wat julle mekaar weer sien, is dit amper weer ’n verlies omdat jy wéér aan die einde totsiens sê.”

Ferreira het al baie ouers deur die emosionele proses gehelp wanneer van hul kinders en kleinkinders emigreer. Elke situasie en emigrasie is uniek, maar die verhouding wat ouers en hul kinders voor die trek gehad het, bepaal hoe die verhouding ná die tyd gaan wees. “Daar is nie ’n goue reël van ‘deel alles met jou ouer’ nie. As die kinders nog nooit alles met hul ouers gedeel het nie, gaan hulle dit ook nie nou doen as hulle uit die land is nie.”

Mense verwag ook dat hul kind hulle sal inlig as hulle van plan is om te emigreer, maar Ferreira sê dit is nie altyd die geval nie.

Tog stel sy voor kinders wat besluit om te emigreer, moet dit met hul ouers bespreek. “Ons dink daaroor om te gaan” of “ek kyk oorsee vir werk”. Dit maak die proses vir die ouer soveel makliker, sê sy. Dit is ook belangrik om ouers tyd te gee om hulle daarop voor te berei dat jy weggaan. Moenie hulle nie ’n week voor die tyd vertel of toelaat dat hulle dit by ’n vriendin of op Facebook uitvind nie, sê sy.

Watter vrae kan ’n mens vra?

Wanneer ouers hoor hul kinders gaan landuit, is daar gewoonlik baie vrae. Ferreira stel voor dat die vrae realisties benader word – van die ouers se kant en ook die kinders se kant. Die tipiese vrae gaan gewoonlik oor die land waarheen hulle wil gaan, tydsones, werk, blyplek, skole vir kinders, siektes en begrafnisse.

“As die kinders aggressief optree, kan dit soms beteken dat hulle nie self seker is van die antwoorde nie. Wanneer jou kind besluit om te emigreer, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie. Dit is nie jou besluit nie, dit is nie jou keuse nie. Dit is net iets wat jy as ouer sal moet hanteer.”

Rituele en kommunikasie

As die besluit geneem is en die kinders is besig om reg te maak vir die trek, is die lughawe een van die belangrikste aspekte waaroor gepraat moet word. “Dit is die eerste konkrete bewys dat hulle nou op pad is.” Sy stel voor ouers en kinders moet voor die tyd ooreenkom of die ouers hulle by die lughawe gaan afsien. Gesprekke oor hoe kuiers gaan werk, moet ook voor die vertrek plaasvind, want dan is daar iets om na uit te sien. Kersfees is byvoorbeeld iets om na uit te sien.

“Daar is twee belangrike lewenslyne vir die ouers en die kinders. Die een is internetkommunikasie en die ander een is in persoon.” Die ouers wat agterbly, moet ook voor die tyd leer en gehelp word om video-kommunikasie te hanteer en met gemak te gebruik, raai Ferreira aan.

Die ouers en kinders sal soveel gesels soos wat hulle voorheen gesels het toe hulle in Suid-Afrika was. Indien julle elke dag oor WhatsApp gesels het, sal julle seker steeds elke dag gesels, sê sy.

Die besoeke

Baie ouers kan dit nie bekostig om vir hul kinders te gaan kuier nie, wat dit uiters moeilik maak. Maar wanneer die besoek moontlik is, kom kuier die kinders eerste vir die ouers, sê Ferreira. Soms help die ouers met die kaartjies, maar oor die algemeen is dit meer die kinders wat hul ouers help om by hulle te kom kuier.

En as die kinders kom kuier, kan ouers dink hulle gaan hul kinders die hele tyd net vir hulself hê. Maar dit is nie die geval nie. “Gee net ’n bietjie ruimte vir hulle wanneer hulle kom kuier. Jy moet besef jou kinders gaan nie die hele tyd by jou wees nie.”

Dieselfde geld wanneer ouers vir hul kinders gaan kuier. Ferreira wys daarop dat kinders wat hulle oorsee gevestig het, hul eie nuwe roetine en werk het. Jy gaan kuier en vakansie hou, maar onthou dat hul lewe daar aangaan. Besef en respekteer dit.

“En ouers moet ook hul kind se ruimte respekteer. Moenie daar kom kritiseer nie. As migrasie jou een ding kan leer, is dit hoe kosbaar tyd is. Sorg dat jou tyd daar tel. Byt op jou tande en moenie alles sê wat in jou kop kom nie.”

Wanneer ouers hoor hul kinders verlaat die land, wonder hulle aanvanklik of hulle nie moet saam trek nie. Maar Ferreira waarsku dat mense realisties moet wees. “Sou jy by jou kinders gaan intrek as hulle in Suid-Afrika was? Nee, jy sou nie.”

Ferreira sê hoe ouer ’n mens raak, hoe moeiliker word dit om in nuwe plekke aan te pas. In Suid-Afrika het jy jou vriende, ondersteuningstelsels en dokters. “En wat gebeur as jou kinders weer trek? Gaan jy die heeltyd agter hulle aantrek?”

Hoewel dit moeilik is, raai sy ouers in dié situasie aan om aan te gaan met hul lewe “en onthou die lewe hou nie op die lughawe op nie”.

As jou kind nie meer in Suid-Afrika bly nie, nooi Ferreira jou om by die Facebook-blad Worlds Apart Living in One Heart aan te sluit. Die groep is deur Ferreira begin nadat sy die behoefte gesien het vir Suid-Afrikaanse ouers om oor dieselfde kwessies te praat en ’n gemeenskap te bou.

Ferreira se wenke

• Rituele is belangrik. Behou kontak met jou kind, maar moenie druk op jou kinders plaas om te reageer nie. Oorweeg ’n Sondagbriefie waar jy die hoogtepunte van die week saamstel. Party families stuur daagliks ’n foto, waar hulle kosmaak of werk – net sodat hulle ingelig is oor wat almal doen.

• Lees dieselfde boeke of kyk dieselfde flieks sodat julle iets in gemeen het waaroor julle kan gesels.

• Vier steeds spesiale dae. Stuur jou kaartjie of lewer iets af indien dit finansieel moontlik is.

• Gaan aan met jou lewe. Oefen, maak nuwe vriende, sluit by klubs aan, maak seker jou lewensfilosofie is in orde.

• En onthou, sê Ferreira, ouers moet onthou dit is “wonderlik” dat hulle bygedra het tot ’n kind wat hul vlerke wil sprei en ’n sukses daarvan kan maak.

Louw en Dreyer se wenke vir oumas en kleinkinders

• Koop klein geskenkies van R10 of R20 om saam te neem wanneer jy vir hulle gaan kuier. Of versamel ’n klomp en pos dit saam vir ’n spesiale geleentheid.

• Indien jy tuinmaak, stuur foto’s van slakkies in die tuin of mooi blomme sodat hulle kan sien waarmee jy besig is.

• Stuur vir hulle spesiale boodskappe en nie net ’n algehele boodskap aan die gesin nie.

• Indien jy die geleentheid het om te gaan kuier, sê dat jy die kleinkinders sal oppas sodat die ouers vir ’n aand uit kan gaan. Só het jy gehalte-oomblikke saam met jou kleinkind.

• Leer vir hulle die liedjies wat jy vir jou kinders geleer het, of wat jou ma vir jou kinders geleer het.

Kinders en kleinkinders wat emigreer

Die Suid-Afrikaners Celia en Pieter Theron se twee kinders en vyf kleinkinders woon oorsee. En vir hulle bly dit steeds ’n “pyn wat aanhou knaag” nadat hul kinders onderskeidelik 20 en ses jaar gelede die land verlaat het.

Hul dogter, Annelize, was 21 toe sy in 2004 na Noord-Ierland verhuis het saam met De Wet Bekker, toe haar kêrel en nou haar man, wat ’n geleentheid gehad het om daar rugby te gaan speel.

“Hulle sou aanvanklik net vir ’n jaar of twee gaan. Ek dink as ek geweet het dit is vir altyd, sou ek dit nie so geredelik aanvaar het nie,” sê Celia.

Pieter was aanvanklik baie opgewonde. “Hulle het gegaan en hul horisonne verbreed. Dit was nie ’n negatiewe ding nie. Maar soos die tyd aangestap het, het dit ’n negatiewe ding geword omdat hulle nie teruggekom het nie.”

Annelize en De Wet het toe begin vanjaar na Australië verhuis. Die Therons se ander kind, Wessel, was 33 jaar oud toe hy in 2018 na Nieu-Seeland verhuis het. “Dit was verskriklik. Ons het geweet hulle gaan vir altyd weg.”

Pieter sê veral hy het sleg gereageer op Wessel se besluit om te emigreer. “Op 32 was hy departementshoof van Afrikaans by Hilton College (in KwaZulu-Natal). Ek het gedink daar lê vir hom ’n blink toekoms in Suid-Afrika voor, maar dit was van korte duur. “Ek was baie teleurgesteld.”

Pieter is wel nou trots op die werk wat Wessel daar doen as ’n opvoedkundige ingenieur, maar die gemis gaan nie weg nie. Vir Celia is dit “ ’n knaende, aanhoudende gemis. Ek sal nooit daaraan gewoond raak nie. Ek mis hulle elke dag. Albei ons kinders is regtig baie gelukkig, so daarvoor is ek dankbaar en tevrede.”

Hulle gaan kuier meestal by hul kinders, eerder as andersom. Hulle is net twee en die ander gesinne is groter. “Maar dit raak moeiliker, veral met die ekonomie soos dit nou is. ’n Mens moet konstant begrotings aanpas om die reis te kan aanpak,” sê Pieter. Hulle gaan kuier elke jaar by hul kinders.

Celia gesels daagliks met haar kinders op WhatsApp, en haar horlosie is so gestel dat sy weet wanneer die beste tye is om hulle te kontak. “Dis spontaan.”

Maar wanneer daar groot dinge gebeur, is dit effens anders. Annelize en Wessel se vrou, Aileen, was op dieselfde tyd swanger.

Celia het Noord-Ierland toe gevlieg om by die geboorte van Annelize se seun te wees, maar het die geboorte van Aileen se tweeling gemis. “Dit was verskriklik moeilik. Eintlik aaklig.”

Vir Pieter maak dit nie saak waarheen die kinders trek nie – of dit nou Johannesburg of Ierland is. ’n Mens is nie daar om spesiale oomblikke te deel nie. “Jy kan jou kleinkinders nie leer visvang nie, jy kan hulle nie leer om ’n vlieër maak nie, jy kan nie vir hulle ’n storie vertel nie, jy kan nie betrokke wees by hul daaglikse lewe nie,” sê Pieter.

So ervaar die kinders dit:

Waarom het julle besluit om Nieu-Seeland toe te trek?

Wessel: Dis ’n vraag wat baie aan ons gestel word in die buiteland en deur oorsese kollegas. Dit voel vir my die antwoord het soveel lae.

Die eerste ding wat ek altyd duidelik maak, is dat ek bitter lief vir Suid-Afrika is. Die twee groot beweegredes agter ons besluit was weens die gewelddadige misdaad en korrupsie in Suid-Afrika. Tweedens, toe ek 16 jaar oud was, het ek ses maande in Amerika deurgebring op ’n oorsese studieprogram. Die reisgogga het my gebyt en sedertdien wou ek net meer plekke sien en beleef.

Hoekom Nieu-Seeland?

Daar is ’n paar dinge wat ons in ag geneem het: Daar was ’n behoefte vir meer onderwysers, daar is baie ander Suid-Afrikaners, minder misdaad, die weer is nie so lekker soos by die huis nie, maar darem beter as byvoorbeeld Engeland of Kanada. Ons wou ook na ’n Engelssprekende land verhuis waar die kultuurskok nie te groot is nie. Ná ses jaar, sonder dat ons dit beplan het, is die meerderheid van ons vriende Suid-Afrikaners. Ons kuier en die kinders speel in Afrikaans – dan voel ’n mens tuis.

Hoe was dit om vir jul ouers te vertel?

Wessel: Ek onthou ek was baie opgewonde toe ek my ouers bel oor my werkaanbod. Die realiteit van hoe baie ons mekaar gaan mis en hoe ver Nieu-Seeland werklik is, het eers later ingeskop. Hulle het natuurlik geruime tyd geweet ek kyk na poste oorsee, maar ook nie besef of gedink dit sou so vinnig gebeur nie.

Hoe is jul kinders se verhouding met hul ouma en oupa en hoe bly hulle in kontak?

Wessel: My kinders is gek oor hul oumas en oupas. Daar is ’n spesiale band tussen elkeen van hulle. My oudste huil partykeer as hy hulle mis of net by hulle wil wees. Ons het WhatsApp-familie-groepe en stuur daagliks boodskappe, video’s en foto’s. Die seuns praat minstens een keer ’n week of tweeweekliks met hul grootouers via ’n video-oproep, maar dit het natuurlik sy beperkings.

My ma en pa stuur ook partykeer vir hulle boodskappe wat hulle self kan lees of luister. My ouers was verlede jaar twee maande lank by ons, asook my skoonma. My pa en ma kom vanjaar weer vir twee maande kuier en ons kan nie wag nie. Dit is sulke tye dat die bande regtig versterk en gevestig word.

Is daar enige skuldgevoelens dat jul ouers in SA is?

Wessel: Die skuldgevoel is ’n realiteit waarmee baie van ons moet leef. Dit is die grootste rede hoekom ek soms twyfel of ek die regte ding gedoen het. As my ouers hier kan kom bly, sal die legkaart in plek val.

Dis ook ironies, want ons het so ’n sterk verhouding en verbintenis, maar nou sit ons aan die ander kant van die wêreld. As ’n mens aan die toekoms dink, as jou ouers ouer word, nie meer kan reis nie of miskien gesondheidsprobleme het, dan stres jy en voel oorweldig deur die magteloosheid of praktiese implikasies wat daarmee gepaardgaan. My wens is dat my ouers by ons, of my suster-hulle kan kom bly!

Share this post

Relocation

Blog

Related articles

Find more articles that delve into similar subjects and provide further information.

No items found.