Op ‘n warm somer-Kersfeesdag vind ek 'n troos in 'n kaleidoskoop van foto's oor my lessenaar gestrooi; kosbare oomblikke vasgevang – die vreugde, die toegeneentheid, die warmte van die familie kuier in Kerstyd.
My vingers volg die rande van 'n gekoesterde foto wat 'n jaar gelede geneem is. Daar staan ons, ek en jy, met ons rooi kershoede en helder glimlagte wat 'n skild vorm teen die onafwendbare bittersoet groet wat voorlê.
Hierdie jaar is dit weer 'n digitale Kersfees. My hart is vasgenael op die rekenaarskerm wat binnekort lewendig sal word met julle gesigte, en belowe om die kontinente tussen ons met 'n eenvoudige muisklik te oorbrug.
Die wonder van verlede jaar se Kersfees is nog helder in my gedagtes. Ek onthou nog die rekenaar se ping, 'n uitnodiging van ver oor die see: "Liewe Ma, besoek ons asseblief. Kyk in jou bankrekening - vanjaar deel ons in jou reis. Ons nooi jou graag vir Kersfees."
O, die opgewondenheid oor ‘n droom wat in vervulling gaan – ek kan deel in 'n wit Kersfees in Amerika, in jou en jou gesin se tuiste in die vreemde.
Die reis was nie net 'n kruising van kontinente nie, maar van lewenshoofstukke. Presies vier jaar en ses-en-twintig dae gelede sedert ons afskeid op Suid-Afrikaanse bodem.
Ja, die finansiële druk is werklik - vlugte gedurende die feesseisoen is 'n luukse, en die verborge koste soos reisversekering en gesondheid maatreëls kom ook by. Die koste en lang wag vir 'n visum en 'n nuwe paspoort nog 'n verdere uitdaging.
Die onbekende en besige lughawens is intimiderend. Elke lang uur tydens lê oor. Elke beknopte vliegtuigsitplek, die dralende vlugvoosheid, alles word oorskadu deur die vooruitsig van ons Kersfees-saamwees.
Reis na familie is 'n belegging vir die hart – dit oorbrug enige afstand wat families skei.
Soggens ontwaak ek met die geur van denne en die kraakvars omhelsing van die sneeukombers wat op alles neersif. Soveel anders as die warm somerkersfees van die suide van Afrika.
Jy het my met ope arms verwelkom in jou gesin se huis - 'n ander wêreld wat onmiskenbaar joune was. My rol het subtiel verskuif van die gids na die een wat ingelei word, van die leermeester na die waarnemer. In die oorgang staan ek trots in verwondering oor die besondere mens wat jy geword het. Jou nuwe loopbaan, jou gesin, jou unieke leefwêreld.
Die feestelikhede en nuwe tradisies was 'n viering van verandering, groei en blywende liefde wat ons oor alle skeiding heen weer verenig. Ons band, het ek besef, is nie beperk deur geografie nie. Dit het getransformeer, maar staan steeds veerkragtig en onwrikbaar sterk.
Ons het baie gelag, hartlike gesprekke gehad, te midde van begrip en stille verstandhoudings – dit was die rendement van ons saamwees. Ons het mooi herinneringe geskep in die konteks van jou nuwe wêreld van leef, werk en gesin. Nog deeltjies in die legkaart van ons steeds groeiende familieverhaal.
Toe my besoek ten einde loop, het die bittersoet afskeid net weer die paradoks bevestig wat begryp word deur diegene van ons wat familiebande oor kontinente sterk hou.
Vanjaar beleef ons weer ‘n virtuele Kersfees, verbind deur die bondgenoot - tegnologie - 'n viering wat oor die hele wêreld strek. Ons navigeer weer die nuwe normaal waar rekenaarskerms die vensters in mekaar se wêrelde word. Ons word omhul deur 'n liefde sonder grense. Deur die optiesevesel-lewenslyne wat ons verbind kan ons die skeiding transendeer, met ‘n Kerservaring wat die verlede en hede laat saamsmelt, met baie lag en deel van ou verhale.
Die geskenke wat jy van ver af gestuur het, lê onder die Kersboom, die stille getuienis van ons gesin se reis.
Vandag verwag ek gretig om nie net jou gesigte te sien nie, maar om in jou wêreld gedompel te word, al is dit net deur jou gelykenisse op 'n digitale skerm.
Die rekenaar skerm helder op met jou vrolike gesig: “Gelukkige Kersfees, Mamma!”