10 September 2023
Ná onderhoude met naastenby 37 000 mense het Oprah Winfrey ’n klink¬klare boodskap: Elke persoon wil deur iemand gesién en gehóór word.
In Suid-Afrika is daar ’n kragtige antwoord op dié behoefte – die Zoeloe-groetwoord sawubona, wat letterlik vertaal word as “ek sien jou”.
Dis meer as ’n groet. Dis die erkenning van die ander persoon en die bevestiging van die band tussen twee mense.
Soos ons die uitgestrekte landskap van ouerskap veral by verhoudings met volwasse kinders verken, word die essensie van sawubona veral relevant.
Om jong kinders te laat voel hulle word “gesien en gehoor” is kernbelangrik en die onderwerp van baie navorsing. Die tyd van doeke ruil en as persoonlike Uber op te tree duur egter nie vir altyd nie – trouens, met die toename in lewensverwagting is dié periode kort vergeleke met ouers se verhouding met hul volwasse kinders.
Laasgenoemde fase kan ’n baie verrykende emosionele ervaring wees, veral as die fondament van liefde, wedersydse respek en vertroue in die kinderjare gelê is.
Hierdie verhouding is dinamies en verg aanpassings van die ouer en die volwasse kind.
Gedurende die ouerskapsreis is daar ’n subtiele oorgangsfase waarin kinders, wat eens totaal afhanklik van hul ouers was, volwasse en selfstandige individue word. Volwasse kinders is gewoonlik nie meer fisiek of finansieel afhanklik van hul ouers nie, maar het steeds hul ouers se erkenning en bevestiging nodig.
Die kompleksiteit van dié aanpassing neem ’n ekstra wending aan met emigrasie. Die geografiese afstand kan spanning en vervreemding in die verhouding meebring.
Maar binne dié uitdaging skuil ook die geleentheid vir ’n dieper verbintenis en begrip.
Emigrasie bring nie net ’n ingrypende lewensverandering vir jou volwasse kind nie, maar ook vir jou as ouer. Jy moet ’n nuwe werklikheid aanvaar sonder jou kind naby jou.
Die betekenis van sawubona stuur die hantering van die langafstandverhouding met empatie en sensitiwiteit.
Hoe kan jy as ouer betekenisvol deel van jou volwasse kind se lewe bly sonder om oorheersend, voorskriftelik of beperkend te wees?
Tyd is ’n kosbare hulpbron – waar jy jou tyd belê, weerspieël jou waardes.
’n Besluit om tyd te belê in jou volwasse kind se lewe is ’n uiting van liefde, omgee en verbintenis. Dit wys vir jou kind dat hoewel elkeen ’n eie lewenspad volg, jy deel van hul reis bly.
Gereelde kommunikasie is die sleutel om afstand te oorbrug. Hedendaagse tegnologie is ’n onmisbare instrument vir families wat oor geografiese afstande versprei is.
Jy kan in aanraking bly – van ’n eenvoudige video-oproep vir ’n verjaardag¬viering tot die deel van foto’s van daaglikse avonture.
Só weet jou kind jy is net ’n knoppie ver as hy of sy jou nodig het.
Die investering van jou tyd strek verder as net gereelde kontak. Dit is ’n geleentheid om in jou kind se drome, aspirasies en toekomsbeplanning te deel.
Jy sal altyd jou kinders se ouer wees, maar die verhouding verander soos jou kind volwasse word.
In plaas van reëls neerlê, verander jou rol van gesagsfiguur na dié van ’n gids of mentor wat raad gee op grond van jou eie ervaring.
Te midde van geografiese grense wat julle skei, bly gesonde persoonlike grense noodsaaklik. Respekteer jou kind se persoonlike ruimte – wees versigtig om nie onnodig in te meng nie.
Vind die balans in betrokkenheid wat albei partye gemaklik en tevrede laat voel. In tye van onsekerheid moet hulle op jou liefde en bestendigheid kan staatmaak.
Maak ook seker jou kind voel altyd van waarde.
Deur gereeld te kommunikeer, inligting te deel oor familiegebeure of ’n stukkie geskiedenis van jul familie, versterk jy hul gevoel van verbondenheid en herinner jy hulle aan hul wortels.
Vier ook hul suksesse en deel in die vreugdevolle oomblikke – laat blyk dat jy trots is.
Soos Oprah ’n daadwerklike poging aanwend om diegene met wie sy gesels te bekragtig deur ten volle teenwoordig te wees, kan jy as ouer ook jou kind van waarde laat voel.
Toon opregte belangstelling in wat hulle doen, hul drome en ambisies.
Wees ’n klankbord waar jou kinders hul drome, ambisies en bekommernisse binne ’n veilige ruimte kan deel.
Dit kan ook soms ’n uitdaging wees om te aanvaar dat jou kind ’n ander persoon het waarmee hulle hul lewe deel. Aanvaar en respekteer jou kind se wederhelf as ’n belangrike deel van hul reis na onafhanklikheid.
Wees ruimdenkend en gasvry wanneer jy die persoon ontmoet, en vind maniere om hulle beter te leer ken.
Laat jou kind weet julle kan oor enigiets gesels. Moedig betekenisvolle gesprekke aan oor onder meer sensitiewe onderwerpe soos testamente of besluite rakende die beplanning van die einde van lewe.
Dit is soms ongemaklik, maar dit is noodsaaklik om ’n ruimte te skep waarin albei van julle jul gevoelens, bekommernisse en menings kan verwoord. Kom ooreen dat julle mag verskil.
Wanneer ons na ons volwasse kinders kyk, is dit noodsaaklik om op die geheelprentjie te fokus en nie net op sekere dele van hul lewens nie. Dit sluit in die hoogtepunte en die uitdagings, die suksesse en die teleurstellings.
Al volg volwasse kinders hul eie unieke lewenspaaie, bly ’n ouer se erkenning en ondersteuning ’n magtige steunpilaar in hul identiteitsvorming.
Emigrasie is ’n komplekse reis van afskeid, ontdekking nuwe uitdagings, voor begin en oor begin.
Wanneer ’n kind emigreer, is dit gewoonlik ’n besluit wat geneem is ná deeglike oorweging met die hoop op ’n beter toekoms. Vir die ouers wat in Suid-Afrika bly, kan dit ’n periode van hartseer en verlange wees.
Dit is dan juis nou dat die waarde van sawubona tot sy volle reg kom.
Al is daar geografiese afstand tussen die ouer en ’n emigrante-kind is daar ’n geestelike en emosionele verbintenis wat ruimte oorbrug.
Vir die kind wat geëmigreer het, kan die wete dat hulle steeds “gesien” en geliefd is deur hul ouers, ’n waardevolle bron van troos wees in tye van heimwee en onsekerheid.
En vir die ouer is dit nie net ’n groet nie, maar ’n intense boodskap van liefde en verbondenheid.
Sawubona aan ons volwasse kinders is ’n erkenning van hul menswees.
Dit beteken: “Ek sien jou, die hele jou. Ek sien jou reis. Ek sien die volwasse persoon wat jy geword het. Ek sien die uitdagings wat jy oorkom het, en die wysheid wat jy langs die pad opgedoen het. Ek sien die individualiteit wat jy koester, die waardes wat jy handhaaf, en die drome waarna jy strewe. Ek erken jou uniekheid en respekteer jou vir wie jy is.”