23 Desember 2023
Dis deesdae niks vreemd meer as jou kleinkinders in die buiteland bly nie. Maar hoe navigeer jy so ’n verhouding wat oor vastelande strek?.
‘Ek kan hulle nooit weer vashou nie. Die vashou . . . Skielik is dit net weg. Die afstand . . . dat ek hulle nie kan vashou nie, nie teen my kan vasdruk nie . . . Ek praat met hulle, sien hulle op Skype, maar hulle weet nie regtig met wie hulle praat nie. En my kleinseun sê toe vir my seun: “My ouma bly in ’n rekenaar.”
Emigrasie ’n algemene verskynsel. Talle Suid Afrikaners is op soek na ’n beter toekoms buite die landsgrense, wat dan veroorsaak dat families geografies oor die wêreld versprei is. Hierdie skeiding het veral ’n diepgaande effek op grootouers.
Die nuus dat ’n kleinkind op pad is, is ’n besondere gebeurtenis en talle grootouers ervaar die nuwe rol op ’n spirituele of religieuse vlak. Die band tussen ouer en kind is een van die fundamenteelste menslike interaksies. Soos ons langer lewe, word ons reis met ons kinders en kleinkinders verleng. Studies betreffend families op ’n gevorderde ouderdom dui daarop dat ouers en hul volwasse kinders tipies hul hele lewe lank by mekaar betrokke bly.
Grootouers benut graag die geleentheid om deel te wees van hul kleinkinders se leefwêreld en om deur hul liefde ’n impak op hul kleinkinders se lewens te hê. Hierdie emosionele betrokkenheid van die grootouer lê ’n sterk grondslag in die kleinkind se ontwikkeling. En kleinkinders gee weer groter betekenis aan die grootouer se lewe – noodsaaklik vir gebalanseerde veroudering. Geografiese afstand speel ’n bepalende rol in die intensiteit van die verhouding. Grootouers wat naby hul kleinkinders bly, kan ’n baie groter rol in hul lewens speel.
Die transformasie van ’n grootouer na ’n transnasionale grootouer begin dikwels deur ’n eenvoudige, soms onverwagse aankondiging: “Ma, Pa, ons gaan emigreer.” Dié lewensveranderende besluit ontlok by alle betrokkenes ’n emosionele kettingreaksie
Die gevoel dat hulle hul kleinkinders se belangrike mylpale gaan misloop, loop soos ’n goue draad deur die verhale van transnasionale grootouers.
As emigrasieterapeut sien ek dikwels dat die skielike verlies van die moontlikheid van ’n gedeelde toekoms met hul kleinkinders tot ’n diep, teenstrydige gevoel van verlies lei vir die grootouer en die kleinkind. Die rede? Net soos wat ouma of oupa ontneem voel van die geleentheid om fisiek gereeld aan hul kleinkinders se lewens deel te hê, word die kleinkind ook ontneem van tasbare, gedeelde ervarings met ouma of oupa.
Die grootouer ervaar ambivalente gevoelens oor die emigrasie. Hulle redeneer dat dit beter en veiliger is vir hul kinders om hulle elders te gaan vestig en stel dan ook die kind se geluk voorop. Maar die verwesenliking van die kinders se droom is gewoonlik ook dan die versplintering van grootouers se toekomsvisie.
Fisieke afstand, asook die grootouer se gesondheid wat geleidelik verswak, verminder hul geleenthede om ’n impak in hul kleinkinders se lewens te maak. Die grootouer se introspeksie lei tot gevoelens van kwesbaarheid. Die bekommernis om alleen agter te bly, om sonder die hulp en ondersteuning van die volwasse kind voort te gaan, word beklemtoon. En die afwagting van die verlies van die kinders se praktiese hulp lei tot onsekerheid en angs.
Dr. Pauline Boss, ’n kenner op die gebied van verlies, beskryf dié verskynsel as “onuitgeklaarde verlies”. Dit kompliseer die rouproses, aangesien daar geen rituele bestaan om dit te hanteer nie.
Volgens Boss leef families dan met ’n paradoksale of dubbelsinnige gevoel van “afwesige teenwoordigheid”: Die onafgehandelde verlies van transnasionale skeiding lei tot die vervaging van grense wanneer kinders en kleinkinders fisiek afwesig, maar sielkundig teenwoordig is. Anders as wanneer iemand sterf, duur hierdie verlies onbepaald voort en is daar nie ’n “oplossing” in sig nie.
Emosionele trajek
Hoewel elke emigrasie-verhaal uniek is en almal die proses anders ervaar, vind ek dat emigrasie dikwels ’n bepaalde emosionele trajek volg, wat uit drie fases bestaan: pre-emigrasie, fisieke vertrek en post-emigrasie.
Die pre-emigrasiefase word gekenmerk deur afwagting en uiteenlopende emosies. Die geleentheid om fisieke kontak met die kleinkinders te hê, word daagliks minder. Veral met die aankondiging van die vertrekdatum word dié besef van verlies ’n koue werklikheid, dit is asof die uurglas al vinniger leegloop.
Emigrasie laat oumas en oupas ook met botsende emosies: die wete dat hul kleinkinders in ’n stabieler omgewing sal grootword, staan in kontras met die verplettering van hul eie hoop vir die toekoms soos hulle voorsien dat hulle gekoesterde oomblikke met hul kleinkinders gaan verloor.
Die tweede fase van emigrasie, wanneer afskeid geneem word, het die sterkste emosionele intensiteit. Dis ’n kort, maar emosiebelaaide fase, wanneer die kinders en kleinkinders fisiek vertrek – ’n tasbare bewys van die verandering in die bestaande verhouding.
“Tatta, Ouma!” weerklink met finaliteit.
In hierdie fase is die lughawe en vliegtuie ’n belangrike skakel in die emigrasieproses. Waar dit voorheen simbole van opgewondenheid, ontdekking en avontuur was, verteenwoordig dit nou die transformasie van ’n fisiek teenwoordige grootouer na ’n trans¬nasionale grootouer.
Afskeid by die lughawe is vir al die partye ’n nuwe ervaring, en daar bestaan geen gevestigde rituele in die hantering daarvan nie
Die wete dat jy jou kleinkinders moet laat gaan, is amper onuithoudbaar, veral as ’n sterk band reeds gevestig is.
Tydens die post-emigrasiefase moet grootouers vrede maak daarmee dat hul volwasse kinders en kleinkinders fisiek vertrek het. Geografiese afstand en tydsones het die verhouding onherroeplik verander. Die grootouers ervaar die onuitgeklaarde verlies van hul nasate wat nog lewe, van tyd tot tyd met hulle gesels, maar nie meer fisiek teenwoordig is nie.
Die grootste van hul talle bekommernisse is dat hulle die mylpale in hul kleinkinders se lewens gaan misloop. Vir grootouers is dit van kardinale belang om deel van hul kleinkinders se lewens te bly en om seker te maak dat hul kleinkinders hulle onthou. Die uitdaging word nou hoe om kommunikasie te bewerkstellig sodat die band nie verswak of selfs verbreek nie.
Die onus om die verhouding tussen grootouer en kleinkind lewend te hou, rus swaar op al die volwassenes betrokke. Die ouers in ander lande kan moeite doen om die verhoudings lewend te hou, maar dit sal net suksesvol wees as Ouma en Oupa kreatief meewerk om die nuwe kommunikasiemiddele te bemeester.
Oumas en oupas beskik oor twee “reddingsboeie” wat hulle help om in verbinding met hul kleinkinders te bly: kommunikasietegnologie en fisieke kuiers, hetsy by hul kinders oorsee of deurdat die kinders in Suid-Afrika kom kuier.
Om fisiek saam te wees, bly die grootste wens van oumas en oupas wat agterbly: om “daar te wees”, in dieselfde fisieke ruimte as hul kinders en kleinkinders, om hulle met al hul sintuie te kan ervaar.
Niks vergelyk regtig met die vreugde van persoonlike kontak nie, veral nie vir oumas en oupas wat so graag herinneringe wil skep deur spontane oomblikke soos drukkies, laggies en deur stories te deel nie.
In die afwesigheid van hierdie fisieke herenigings, verskaf sosiale media en tegnologie vir families wat deur afstand geskei is, die geleentheid om op ’n alternatiewe manier in verbinding te bly. Digitale platforms soos Skype, e-pos, WhatsApp en FaceTime bied aan grootouers die geleentheid om virtueel teenwoordig te wees deur aanlyn gesprekke en gedeelde oomblikke moontlik te maak.
Tydsones en geografiese afstand bied uitdagings, tog toon Suid-Afrikaanse transnasionale grootouers merkwaardige veerkragtigheid en aanpasbaarheid. Hul inherente begeerte om hul rol as grootouer ondanks hierdie soort verandering te vervul, benadruk hul ongeëwenaarde toewyding. Selfs dekades ná die afsterwe van ’n grootouer sal kleinkinders steeds waarde kan put uit die herinneringe van liefde, inspirasie, aanmoediging en wysheid.
In ’n era waar ’n mens met die klik van ’n muis mense op ander kontinente kan bereik en waar emosies as pieksels oorgedra word, word die uitleef van langafstand familieverhoudings herskryf.
Hierdie verandering is veral opvallend in die verhouding tussen grootouers en kleinkinders.
Vir die grootouer wat vasbeslote is om ’n goeie en langdurige verhouding met hul kleinkind te bewerkstellig, lê die geheim in ’n wilsbesluit om die verhouding te koester. Hul verhale spreek boekdele oor die onbeperkte vermoë van hul liefde: “Die grootste pluspunt van alles, jy kry ’n kleinkind, en ek kan vir jou sê, dis die grootste pluspunt. Jy is nie liewer vir jou kleinkind as jou kinders nie; jy is lief vir jou kleinkind op ’n onbeskryflike manier, om te weet dit is die kind van jou kind, en al wat jy wil gee, is liefde.”
Ferreira is ’n sosiaal-wetenskaplike navorser en emigrasieterapeut in private praktyk wat spesialiseer in die emosionele effek van emigrasie.