24 Desember 2023
Vir transnasionale gesinne is die feestyd ’n gewilde tyd vir ouers met volwasse kinders om hul familie in die buiteland te besoek. Sulette Ferreira gee raad oor hoe ouers dié besoeke waardevol kan maak.
Die feestelike atmosfeer begroet jou die oomblik as jy van die vliegtuig afstap. Dit wek gevoelens van vreugde én onsekerheid in jou op. Jou hart loop oor van afwagting vir die langverwagte kuier by jou kinders en kleinkinders wat nou ’n vreemde land hul tuiste noem.
Met hierdie reise poog ouers met volwasse kinders om die emosionele afstand te oorbrug wat dikwels ’n bittersoet ervaring kan wees: die diepliggende vreugde van die feestyd, asook die kompleksiteite van veranderde familierolle.
In my werk as ’n emigrasieterapeut deel ouers dikwels hul ervaringe van besoeke aan hul kinders in die buiteland met my. Deur die lens van hierdie besoekende ouers verken ons die uitdagings wat hierdie transnasionale besoeke inhou, en bespreek ek aspekte om jou te help om hierdie besoeke so waardevol as moontlik te maak.
Op die oog af lyk die antwoord dalk voor die hand liggend: Jy en jou kinders is lief vir mekaar en hunker na nabyheid.
Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie. Sodra jy as ouer die redes vir die kuier van nader begin ondersoek, kom sekere nuanses na vore wat oorweeg moet word. As ouer wat die lang en duur reis onderneem om by kinders en kleinkinders oorsee te kuier, bied hierdie besoek meer as net ’n geleentheid om saam te wees.
Hierdie reis is ’n verkenning van die nuwe wêreld wat jou kinders geskep het. Dit is ’n geleentheid om nie net te sien en deel te neem aan hul daaglikse lewe nie, maar ook om jou eie plek daarin te ontdek. Dit bied die geleentheid om ’n aktiewe deelnemer te wees eerder as ’n toeskouer.
Dit is veel meer as die fisieke weersiens, dit is die deel van liefde, vreugde en die warmte van die Kerstyd. Jou teenwoordigheid as ouer verbind die hede met die verlede en is ’n bewys van jou verbintenis om deel te bly van hul toekomsdrome.
Deeglike voorbereiding vir jou kuier in die buiteland kan ’n reuseverskil maak. Vroeë bespreking van jou vlugte is raadsaam – dit is dikwels sinoniem met kostedoeltreffendheid. Wees bewus van jou kinders se verpligtinge en planne en integreer dit in jou reisplanne.
Met goeie beplanning kan elke lid van die gesin bydra tot ’n suksesvolle besoek. Dis meer as net ’n logistieke uitdaging – dit word ’n liefdestaak.
Onthou selfs noukeurige planne kan skipbreuk ly as gevolg van gekanselleerde vlugte of gesondheidskwessies. Maak dus seker dat ’n alternatiewe plan bestaan.
’n Transnasionale besoek kan nooit ’n eensydige aangeleentheid wees nie. Proaktiewe, gesamentlike beplanning en goeie kommunikasie verseker dat almal mekaar reg verstaan. Dit is noodsaaklik dat hierdie dialoog voortdurend aangepas word om ruimte te laat vir elkeen se unieke behoeftes.
Wees bedag daarop dat wanneer jy jou kinders weer sien, daar ’n verandering in die manier van kommunikasie gaan wees. Waar julle voorheen van e-posse, boodskappe of video-oproepe as kommunikasiemiddel gebruik gemaak het, moet julle nou gewoond raak aan mekaar se fisieke teenwoordigheid.
In sommige gevalle is dit ’n sensitiewe proses wat geduld, empatie en ’n oop gemoed verg. Gun mekaar die nodige tyd en ruimte om rustig aan te pas by die subtiele nuanses van jul geselskap.
Die hoë koste van oorsese reise kan ’n struikelblok wees om jou kinders gereelder te sien, veral gedurende die feestyd. Die bykomende uitgawes van reis- en gesondheidsversekering dra by tot die finansiële las. Groot en besige internasionale lughawens en vreemde tale is ’n verdere uitdaging en lang vlugte is uitputtend.
Nietemin, hierdie koste weeg egter nie op teen die waarde daarvan om in die bekende nabyheid van jou kinders en hul gesinne te wees nie. Hierdie opofferings lei tot ’n reeks kosbare beleggings in die gesin wat vir altyd gekoester sal word.
Kuiers bied ’n toets vir realistiese verwagtinge. Jou kinders het hul eie huishoudings gevestig, gevestig in ’n ander samelewing met sy unieke kultuur en gebruike. Dit is natuurlik om ’n gevoel van trots te ervaar oor die volwasse mense wat hulle geword het. Nietemin, die nostalgiese verlange na vervloë dae, toe jou plek in hul daaglikse lewens meer prominent was, is onvermydelik.
Die realiteit is egter heeltemal anders, jou rol as ouer het verander van toesighouer en gids tot besoeker en ondersteuner.
Wanneer jy jou kinders se huis binnestap, is jy ’n besoeker. Jy bepaal nie meer die rigting van hul lewens nie. Pas aan by hierdie veranderde gesinsdinamika. Vind die sensitiewe balans tussen om betrokke te wees en om voldoende ruimte te laat waarin hulle kan floreer.
Plaas die klein irritasies en frustrasies opsy wat julle tyd saam kan versuur. Dit kan verhoudings vertroebel en soveel hartseer veroorsaak.
Aanvaar verantwoordelikheid vir jou optrede: Kies om dankbaar te wees vir die geleentheid om saam te wees. Só kan die besoek ’n positiewe en verrykende ervaring vir almal wees en die geleentheid bied om herinneringe te skep vir wanneer elk weer in sy eie wêreld is.
Om weer te groet, is nie maklik nie. Wanneer ons huiswaarts keer, gevul met ’n skatkis vol kosbare herinneringe, is dit wenslik om vorentoe te kyk.
Beplan daarom nou reeds die volgende ontmoeting, of dit nou ’n besoek in die warmte van jul huise sal wees, die gedeelde vreugde van ’n vakansiebestemming of ’n digitale gesprek.
Kuiers oor landsgrense heen is skaars en kosbaar. Wanneer jou kinders en kleinkinders ná jou besoek terugkyk na hierdie Kersgety, mag hulle dit onthou as ’n tyd van onverganklike liefde en vreugde, ’n getuienis van die lewende band wat julle as ’n familie saambind. Laat die beste van jouself agter. Hierdie kosbare mense is immers die rede vir jou besoek.