Schedule a session
menu
Back
Chevron_left

Emigration Stories

‘n Hond se hart

January 21, 2025

‘n Hond se hart

Sometimes I believe…Sometimes I really do believe.
Garth Stein

Die vrou trek haar selfoon uit die sak wat oop op die toonbank van die diereskuiling in
Brandfort staan. Sy soek deur die kontaklys van die foon – na haar straatadres. Sy voel
meteens vreemd in haar eie land. Soos sy vir negentien jaar in Kanada was. ‘n
Vreemdeling. Vir ‘n oomblik is Kanada vir haar bekender as hier.

Sy tree nader aan die waaier wat blikkerig sukkel om die hitte by die deur uit te waai.
Die negentien benede vriespuntwinters in Kanada het haar geheue oor
Februariesomers in die Vrystaat uitgewis.

Vier dae gelede het sy Vancouver gegroet. Kanada se mooiste stad het die bekende
bakens vir haar, asof moedswillig, onder die sneeu versteek toe sy dit vir oulaas uit die
vliegtuig wou eien.Twee dae later, toe sy afklim in Bloemfontein, was die sneeu stof.
Die son het haar nekhare geskroei en sy het geweet sy lyk belaglik in die swart
wintersweetpak.

Maar sy was terug. By die huis. Dié keer permanent.

“Belowe my jy sal ‘n waghond kry sodra jy gevestig is”, het haar man ‘n paar maal gevra
voor haar vertrek. Die weggooibrakkie se gesig op die webblad was allesbehalwe dié
van ‘n waghond. Dit was ‘n verdrietige bruinoogmengsel van verwagting. Sy het
Brandfort toe gery.

Steeds stywebeen, want hy is maar eers die vorige dag “reggemaak”, kom hy skugter
om haar voete snuif. Die bod word toegeslaan met ‘n skurwetongsoen teen haar kuit.

“Aangekeer daar by die Winburgafrit langs die N1, Mevrou. Hierdie enetjie is ‘n stray,
totally lost. Hy’s nie eers ‘n rescue wat ons gaan vat het by ‘n huis of in ‘n yard nie”, sê
die outjie wat hom in sy hok gaan haal het.

Terwyl sy haar nuwe adres, nou ook die hond s’n, invul op die vorm, dink sy weer aan
die ongewone naam van die meenthuiskompleks Crassula.
“Die naam van ‘n inheemse grassaad”, het die agent haar ingelig.
“Langenhovenstraat” het haar darem dadelik laat kliek.

Inligting oor die hond is vaag. Die veearts skat hom vier jaar oud. Terriërkruis, medium
grootte. Geen teken van aggressie nie. Gesond en skaam, staan geskryf op die verslag.
Saam stap sy en die naamlose brak uit in die son, na die Aviskar onder die enigste
boom.

Wat het my besiel, dink sy, terwyl hy sy been teen die wieldop lig. Sy tel hom op en
maak die agterdeur oop. Dis nie die vaal ogies waarin ‘n storie geskryf is oor hond
sonder huis en seerkry nie, ook nie die knopperige ribbe wat vertel van maer jare vol
onverdiende skoppe nie, maar wel die hond se hare wat haar laat onthou. Sy hare wat
soos dié van ‘n opgebruikte skottelgoedborsel in alle rigtings staan, voel tussen haar
vingers nes Sam s’n. Vir ‘n oomblik vergeet sy van man en kinders wat in Kanada moes
agterbly, van ‘n leë nuwe huis, van die blywees terug in haar geliefde land. Net hierdie
hond maak nóú saak. Sy druk sy lyf styf teen haar vas, klap die agterdeur toe en klim in
die motor. Die hond glip tussen die voorste sitplekke deur en klouter vierpoot op haar
skoot.


“Jy moes taai wees tot nou. Ek gaan nie ‘n fancy naam aan jou halsband hang nie”,
fluister sy. “Welkom tuis saam met my, Toffie.” Terwyl hulle na die meenthuis terugry,
dwaal haar gedagtes agtien jaar, twintigduisend kilometer ver, terug.

* * *

Deur die newels, op die veeartsbed, voel Sam haar hand oudergewoonte deur sy
stekelhare vroetel. Soos altyd wanneer hy op sy sy lê, krap sy nou sy maag en trek met
haar vinger oor die buitelyn van die hartvormige geboortevlek, daar waar die haartjies yl
raak op sy bors. “Nog altyd twee harte gehad, jy”, fluister sy. Bruinoog kyk hy na haar.
Hy lig sy agterpoot en skop vir oulaas ‘n bal sneeu op uit die grond. Met die wegtrek laat
hy die winterland vol wit grasperke en vreemdheid ver agter en afstandloos hol hy nou
weer oopbek op die stofpaaie buite die Vrystaatdorp, waar hy naweke saam met sy pa
kettingloos kon draf.

Die Kanadese veearts sit sy hand op die vrou se skouer.
“You made a decision for the right. My heart goes out to you, as I know Sam was a
member of your family.”

Sy kyk vir oulaas na die besemboslyf, haar man se troetelnaam vir Sam. Hy het saam
met hulle Kanada toe gekom. Sy het altyd probeer, maar kon dit nooit vergeet nie – die
aggressie wat die afgelope jaar woedend in sy oë bly brand het. Terriër. Lojaal.
Oorbeskermend in die vreemde. Pas soos mense moeilik aan in ‘n nuwe omgewing. En
dis waarom ek jou vandag die ewigheid moes instuur, voordat ‘n méns dalk dieselfde
pad sou loop, dink sy wrang.

Here, huil sy droogoog terug in die motor. Sal ek ook soos my hond eers die
reënboogbrug moet oor, voordat ek weer die strate in my dorp kan loop om soggens
skreefkyk sonkant toe te bid vir ‘n nuwe Vrystaatdag?

Gelate klim sy eers weer uit die motor en skraap die ys van die vensters af voordat sy
terugry huis toe om vir haar man en kinders te gaan sê. Na ‘n jaar in Kanada hou die
hond nou geen gevaar meer in vir enige Kanadees nie. Dus nog ‘n blokkie afgetik op
die pad na ‘n beter lewe hier in die nuwe land.

Een-een word die maande in die vreemde afgeskeur van die Wildtuinkalender teen die
yskasdeur. Haar kinders raak Engels baas en begin haar terg oor haar vreemde aksent.
Oupas en oumas kom vir ses weke kuier. Die een ouma is trots op haar kleinkinders
wat steeds Afrikaans kan praat. Saans lees sy vir hulle uit Stories van Rivierplaas en
geniet dit wanneer hulle verbeeldings met hulle weghol in Afrikaans. Die ander ouma
klets sinloos sonder ophou rympies soos Jolly Jack, full of joy af in Engels. Volgens
haar het Afrikaans statusloos geword.

Haar man sien sy min. Hulle woorde raak op. Sy vra hom lankal nie meer wat hulle hier
in die vreemde maak nie. Vroegdag ry hy werk toe en saans sluk die vensterlose
vertrek in die kelderverdieping van die huurhuis hom in. Daar het hy ‘n studeerkamer
ingerig. Hy vergeet dikwels van die koppie tee waarvoor sy hom laataand roep. Sy lê
aand na aand alleen en luister na die winter wat sy koue genadeloos deur die dubbeldik
vensters van die slaapkamer waai. Haar man werk langer as daglank. En hy studeer.
En hy studeer. Hy, gerespekteerde akademikus waar hulle vandaan kom, moet sy
kennis en vaardigheid stuk-stuk vir die soveelste keer met elke eksamen op die skaal
uitpak en wag om te sien of hy swaar genoeg bevind word vir genesing van siekes in
die nuwe land. En sy, wat haar loopbaan saam met die strykyster en staanlampe,
dubbelbed en kombuisgoed verniet weggegee het voor die trek, staan naamloos
bekend as “the new doctor’s wife”.


Winters word somers, en sy dink aan haar pa wat altyd sê daar groei ‘n bekende reuk in
elke nuwe huis. Melkkos en pannekoek, kerrievleis en die reuk van fudge laat die
kinders se nuwe maats smiddae nuuskierig om die kombuistafel draai. Bure kom sit aan
vir skaapboud en onbekende geelrys met rosyne. Die Kanadese kinders probeer onder
groot gelag om geel en skaap soos haar kinders uit te spreek. Die gegrap en gekuier is
in Engels, maar wanneer hulle bid, is die “Vader, seën die hande…” steeds in Afrikaans.

Oor Sam word selde gesels. Seerkry het haar stilgemaak en die kinders het lankal
ophou vra. Tot met Sam was daar nog altyd ‘n hond in hulle huis. Twee jaar na Sam
kom haar man een aand by die huis met ‘n klein trooshond in ‘n boks. Sy noem hom
Josef. Die wollerige bondel word haar skaduwee in die huis, op straat, in die winkel en
op die speelgrond waar sy smiddae vir die kinders wag. Oral staan hy bekend as
“Joseph with an f”. Hy raak vir haar ‘n skans teen winterweersin wanneer die spelende
klein lyfie skielik wegsak in die poeiersneeu, en sy hom keer op keer laggend moet
uitlig. In die somer snuffel hy wildebloubessies uit saam met haar tussen die ander
plukkers in die lae struike langs die pad. Die boere sit mandjies uit vir enigiemand wat
wil pluk. Die mandjie word dan later weer teruggebring. Stuk-stuk leer die hond haar om
die mooi van die berge en die baie water en die Bambibokke wat op hulle stappad stil
tussen die bome uitloer, te waardeer. Hulle maak nuwe vriende op die strand, die vrou
en die klein wit hond wat blaf vir die wind. Hy maak die terugkom na kuiers in haar land
draagliker – sy weet hy wag vir haar.

Hoewel nie huis nie, raak die aanpassing in Kanada met die jare sag. Haar man
verstaan haar alleenheid en ontsien geen kans om haar gereeld te laat gaan afpak by
haar mense nie. Sy kom terug met die spore van die Vrystaatson nie net op haar lyf nie,
maar ook in haar oë. Die spoed van die seisoene meet sy aan die grootraak van haar
kinders. Sy ry haar oudste, vol eerstejaarsdrome, duisende kilometer weg om haar lewe
as student te begin. Leeggehuil, maar trots op haar meisiekind, ry sy dwarsoor vier
provinsies terug na die eiland waar hulle woon. By ‘n padstal koop sy ‘n bos
sonneblomme wat lyk of hulle vars van ‘n Kroonstadplaas af kom, en druk haar gesig in
al die geel. Sy weet voor haar siel hulle gaan die tog huis toe nie oorleef nie, maar vir
drieduisend kilometer lê hulle haar kind se leë passasiersitplek vol.

Drie jaar later gaan laai sy ook haar jongste af, hierdie keer wel nader, maar toe sy
wegry en dink aan die lyfie alleen in ‘n enkelkamer met die groot reënboognasievlag
geprestik teen die muur, weet sy haar kind verlang vanaand ook na ‘n Vrystaathuis.

Die eens vrolike vakansies terug in haar land verander. Haar pa, haar steunpilaar deur
al die jare van sy aftreehuis se stoep op Potchefstroom, sterf. Sneeustorms regoor
Amerika en Europa stop vlugte op ‘n streep. Ook die begrafnisvlug word gekanselleer.
Vyf dae later, toegewikkel in ‘n winterkombers, skuif sy op ‘n koue winternag by ‘n
Skype -“kerkbank in en groet hom ‘n laaste keer twintigduisend kilometer ver, vanaf die
rekenaar in haar sitkamer. Dis ‘n blou somersdag in die eens Wes-Transvaal. Vier
maande later is die seisoene haar genadig. Sy sit self die laaste pienk Van
Stadensrivier daisies op haar ma se kis.

Ook vir Josef moet sy ses maande na haar ouers groet. Tot op die ouderdom van swak
en gedaan het hy haar vyftien jaar lank gevolg, dikwels sy vir hom. Natuurlik het haar
hart gebreek, maar saam het hulle ‘n hele hondelewe klaargestap.

Dis vyf dae voor Kersfees toe hulle vir oulaas die rooi voordeur van die huis In Mulberry
Lane op die eiland sluit. Die nuwe mense trek op Oukersdag in. Uit haar jassak haal sy
‘n kort string liggies en hang dit vir hulle oor ‘n tak van die esdoornboom wat voor die
sitkamervenster staan. Sy wens sy kon self vir die nuwe jong ma, wat van Engeland af
emigreer, vertel dat dit met haar kroos goed sal gaan. Kinders het die gawe om met
linker- en regtervoet ewe stewig in geboorte- en grootwordgrond te staan. Jou kinders
verloor jóú nooit. Haar dogters het nie teruggekom Suid-Afrika toe nie. Maar sy weet
hulle sal altyd by haar son kom skep vir die winterdae terug in die Noordelike Halfrond.

Sy en haar man staan stom teenoor mekaar op die lughawe. Dis weer soos daardie
eerste winter weg van die huis. Weerloos. Albei weet hoe afskeid voel. Dit het die jare
hulle immers oor en oor geleer. In dié tyd het hulle ‘n kruk geword vir mekaar. Driebeen
het hulle saamgestap, geval en elke keer saam opgestaan. Nou gaan sy terug. Alleen.
Hy sê hy sal haar later volg. Tyd sal leer. Sy kyk vir oulaas op na hom en sien hoe
negentien jaar se werk, verlange, twyfel en konflik, ‘n diep spoor gekerf het oor sy
gesig. Hy het sy bes probeer om vir haar hier ‘n huis te gee, maar sy het
bestemmingsloos gebly.

Toe hy haar vra om terug by die huis ‘n waghond aan te skaf, het albei, sonder enige
woord, gedink aan Sam. Sam, wat op ‘n jong vyf die prys moes betaal waaroor niemand
in die gesin ooit weer ‘n woord sou rep nie.

Voor sy die motor buite die dieresentrum aanskakel, tel sy die nuwe huisgenoot, Toffie,
van haar skoot op die sitplek langs haar. Toe hulle Bloemfontein binnery, kyk hy rond
asof hy die dorp nog heeltyd ken. Sy glimlag, wonder wat die kinders van sy naam gaan
sê. Sy sien uit om hulle vanaand te bel.

Dis laatmiddag, toe sy, net so gedaan soos die hond, met ‘n geleende glas in die hand,
by hom op die vloer in die leë huis gaan sit. Die meubels is op ‘n skip en sal eers oor
ses weke aankom.Toffie het huis en tuin beruik, stert gewaai vir die bure wat met ‘n
bottel wyn kom kennis maak het, en toe, tipies terriër, op die naat van sy rug, pote styf
bo hom uitgestrek, op die sitkamervloer aan die slaap geraak. Toe-oë, met haar kop
teen die muur, dink sy aan haar man en twee kinders wat nou, op drie verskillende
plekke in Kanada, begin wakkerword na die nag. Nege uur tydsverskil. Dalk sal sy maar
tot more-oggend wag, dan is dit aand by hulle. Rustiger om hulle dan te bel. Sal solank
‘n foto van Toffie stuur. Sy kyk na die slapende hond.

En toe. Versteek onder die effense hare tussen sy voorpote, die merk in die vorm van ‘n
hart. Sy kyk weer. Soos die ongelowige Thomas moet sy eers daaraan raak voor sy glo.
“Sam”, roep sy sag. Eers roer die stert van die slapende hond, net dit, maar toe begin
dit waai. Hy maak sy oë oop. Bruinoog kyk hy vir haar. “Het begin dink jy het my naam
vergeet. Toe help ek jou, sien? En wys jou my hart.”